Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Brittanje se Prins William staan Donderdag by Jerusalem se Olyfberg met ’n uitsig oor die Ou Stad en die goue koepel van die Dome of the Rock-moskee in die agtergrond. Dié koninklike het na die Wes-Oewer gereis en ’n boodskap van vrede versprei tydens sy ontmoeting met die Palestynse president en ’n besoek aan ’n Palestynse vlugtelingkamp. (Foto: Thomas Coex, AP)

Wang Shouwen, die Chinese adjunkminister van handel, praat Donderdag by die Staatsraad se inligtingskantoor in Beijing tydens ’n mediakonferensie oor ’n kabinetsverslag oor China se handelsrekord wat pas uitgereik is. China se regering het sy handelsrekord as ’n voordeel vir die wêreld bestempel in ’n poging om Amerikaanse en Europese druk oor marktoegang en ’n tegnologiebeleid te verlig. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, woon Donderdag ’n debat by in die Duitse parlement, die Bundestag, in Berlyn. (Foto: Markus Schreiber, AP)