Die wêreld in foto’s – 28 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Polisiebeamptes vergesel die doodskis van die ontslape lt.kol. Arnaud Beltrame voor ʼn begrafnisstoet buite die Pantheon in Parys. Die slagoffers van verlede week se ekstremistiese aanval in Suid-Frankryk ontvang Woensdag die Legioen van Eer deur die Franse president Emmanuel Macron tydens ʼn plegtige nasionale eerbetoning. (Foto: Etienne Laurent, AP)

Win Myint, die nuutverkose president van Mianmar, wuif vir die media uit ʼn motorvenster buite die parlement in Naypyitaw, Mianmar. Mianmar se parlement het Myint, ʼn lojalis van Aung San Suu Kyi, as nuwe president verkies. Suu Kyi, wie se formele titel “staatsberader” is, behou haar uitvoerende gesag oor dié regering. (Foto: Aung Shine Oo, AP)

Die Russiese nasionale vlag hang halfmas by die Senaatgebou in Kremlin op die dag van nasionale rou in Moskou, Rusland. Vlae reg oor Rusland hang halfmas aangesien dié land in rou gedompel is oor die slagoffers van ʼn winkelsentrumbrand in Siberië. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Kunstenaars doen Woensdag ʼn volksdans tydens ʼn optog om Tibet se Bevrydingsdag te vier in Lhasa in die suidweste van China se Tibet-streek. Woensdag is die 59ste herdenking van die bevryding van Tibetaanse slawe. (Foto: Jigme Dorgi, Xinhua)

Michael Rakowitz, ʼn Irakse Amerikaanse kunstenaar, poseer vir foto’s ná die onthulling van sy beeld “The Invisible Enemy Should not Be” op Trafalgar-plein in Londen. Dié beeld, gemaak uit stroopkannetjies van Irak, is ʼn replika van Lamassu, ʼn gevleuelde bul wat vanaf die jaar 700 vC by die ingang van die Nergalhek van Nineveh gestaan het. Dit is egter in 2015 deur die Islamitiese Staat- ekstremistiese groep by die Mosul-museum in Irak vernietig. (Foto: Matt Dunham, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.