Die wêreld in foto’s – 28 Mei 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Emmanuel Macron, die Franse president (links), vergader Maandag met Mamoudou Gassama van Mali by die presidensiële Elysee-paleis in Parys. Gassama, wat onwettig in Frankryk woon, word deur Macron vereer nadat hy die naweek ’n 4-jarige kind gered het wat van ’n balkon op die vyfde verdieping gehang het. (Foto: Thibault Camus, AP)

’n Kambodjaanse man vervoer Maandag sy familie se besittings in sy driewiel-taxi in Phnom Penh. (Foto: Heng Sinith, AP)

’n Indiese passasier was homself langs die spoorweg op ’n warm somersmiddag in die buitewyke van Jammu, Indië. Die maksimum temperatuur wat in Jammu aangeteken is, is ’n allemintige 42,5 grade Celsius, die hoogste temperatuur nóg hierdie seisoen en ’n paar grade bo dié van die normale temperatuur vir hierdie tyd van die jaar. (Foto: Channi Anand, AP)

’n 90-jarige bestuurder se motor word weggesleep nadat dié motor tussen voetgangers ingeploeg het. Dit het gebeur terwyl die voetgangers die straat oorgesteek het by ’n besige kruising in Chigasaki, ’n kusstad suidwes van Tokio. ’n Polisiebeampte in Chigasaki het gesê die bestuurder, ’n bejaarde vrou, het vier mense raakgery nadat die voertuig pas uit ’n motorwerkswinkel gekom het. (Foto: AP)

Die ekonoom Carlo Cottarelli word Maandag omring deur verslaggewers nadat hy by Rome se Termini-stasie opgedaag het. Italië se president, Sergio Mattarella, het Cottarelli Maandag na die presidensiële paleis uitgenooi om dié voormalige beampte van die Internasionale Monetêre Fonds amptelik te vra om ’n tegniese regering te vorm. Dit volg ná die ineenstorting van wat Wes-Europa se eerste populistiese regering sou wees. (Foto: Angelo Carconi, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.