Die wêreld in foto’s – 29 April 2019

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Liverpool se Virgil van Dijk is as Engeland se Beroepsokkerspelersvereniging (PFA) se sokkerspeler van die jaar aangewys gedurende die 2019-PFA-toekennings by die Grosvenor-hotel in Londen. Van Dijk het dié toekenning ontvang ter erkenning van sy bydrae aan die sport as deel van Liverpool se verdediging. (Foto: Barrington Coombs, AP)

’n Bejaarde burger van Indië se vinger word met ink gemerk voordat hy by die verkiesingslokaal aan die vierde fase van die algemene verkiesing in Mumbai, Indië, deelneem. Die verkiesing gaan oor sewe fases geskied en sal teen 19 Mei tot ’n einde kom. (Foto: Rafiq Maqbool, AP)

Mense steek kerse aan ter herdenking van die slagoffers wat deel was van die skietvoorval by die Chabad of Poway-sinagoge in Poway, Kalifornië. ’n Man het Saterdag binne dié sinagoge naby San Diego losgebrand terwyl Joodse aanbidders die laaste dag van die groot Joodse vakansie gevier het. (Foto: Denis Poroy, AP)

Eric Lucero hou sy tweejarige dogter, Ava Lucero, vas terwyl hy trompet speel saam met Sunpie & the Louisiana Sunspots op die Fais Do Do-verhoog gedurende die New Orleans Jazz & Heritage-fees in New Orleans. (Foto: Alex Brandon, AP)

Connor Bahlo en Aria Trifilio neem deel aan die Robot-modeparade in St. Paul, Minnesota. Tech Dump, ’n elektroniese herwinningsmaatskappy, bied vanjaar die derde Robot-modeparade by Can Can Wonderland in St. Paul aan. Nege spanne het vanjaar deelgeneem en kostuums en karakters geskep wat op tegnologie gebaseer is. Deelnemers is beoordeel op grond van kreatiwiteit, oorspronklikheid, die gebruik van herwinbare elektronika asook die gehoor se voorkeure. (Foto: Jeff Wheeler, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.