Die wêreld in foto’s – 29 Januarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Groep vissermanne probeer om Mordvinovs-baai in Siberië, Rusland, te bereik deur ʼn stuk ys as vlot te gebruik. Rusland se nooddienste het 536 vissermanne gered nadat hulle gestrand geraak het op ʼn reuse-stuk drywende ys wat van die Sakhalin-eiland losgebreek het. (Foto: AP)

ʼn Sinkgat het Dinsdag op die openbare strand van West Bay op die Kaaiman-eilande in die Karibiese See voorgekom nadat ʼn sterk aardbewing die gebied tussen Jamaika en die ooskus van Kuba getref het. Die aardbewing het krake in paaie en gebarste rioolpype op die eilande tot gevolg gehad het. (Foto: Taneos Ramsay, AP)

ʼn Banier wat lees “oorwin die epidemie” by die ingang tot Donggouhe in die noorde van China. Die dorp is afgesper om die buitewêreld te beskerm teen infeksie met die koronavirus. (Foto: AP)

Nigel Farage, Britse parlementslid, praat met ʼn joernalis tydens ʼn onderhoud in die Europese parlement in Brussel. Met Brittanje en die Europese Unie wat Vrydag paaie skei, verwyder Britse parlementslede hul persoonlike items uit hul kantore in Brussel. (Foto: Francisco Seco, AP)

Die Amerikaanse ruimtevaarder Christina Koch wat deel is van die ekspedisie na die Internasionale Ruimtestasie (ISS), in gesprek met haar familielede deur ʼn veiligheidsglas op 14 Maart 2019. Koch het Dinsdag haar 319ste agtereenvolgende dag in die ruimte deurgebring en het gesê haar deelname aan die eerste ruimtewandeling deur vroue was die hoogtepunt van haar sending. (Foto: Dmitri Lovetsky, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae