Die wêreld in foto’s – 29 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Die standbeeld van St Pieter toring oor biskoppe wat ’n mis, gelei deur pous Franciskus, bywoon met die oplegging van die pallium (ʼn woltjalie wat hul band met die pous simboliseer) aan die nuwe aartsbiskoplike kardinale tydens die plegtigheid van die heiliges Petrus en Paulus in St Pietersplein in die Vatikaanstad. Pous Franciskus het Donderdag 14 nuwe kardinale verklaar. (Foto: Alessandra Tarantino, AP)

ʼn Jong Filippynse werker pak Vrydag houtskool in plastieksakkies by hul winkel aan die buitewyke van Manila in die Filippyne. Houtskool word steeds deur baie huishoudings buite dié stad gebruik om krag te bespaar. (Foto: Aaron Favila, AP)

Mense neem deel aan ʼn wynstryd in die dorpie Haro in noordelike Spanje. Honderde geesdriftiges neem deel aan hierdie somerstryd waartydens hulle duisende liters rooiwyn op mekaar uitgooi. (Foto: Alvaro Barrientos, AP)

Steve Schuh, provinsiale uitvoerende hoof van Anne Arundel County, hou ʼn eksemplaar van The Capital Gazette vas naby die toneel van ʼn skietery by dié koerant se kantoor in Annapolis, Maryland. ʼn Man, gewapen met rookgranate en ʼn haelgeweer, het joernaliste Donderdag in dié gebou aangeval en verskeie mense doodgeskiet voordat die polisie die gebou stormgeloop en hom in hegtenis geneem het. (Foto: Patrick Semansky, AP)

ʼn Werknemer van die Sotheby-veilinghuis poseer Vrydag vir fotograwe by ʼn kunswerk deur die Belgiese kunstenaar, sir Peter Paul Rubens, genaamd Portrait of a Venetian Nobleman, in Londen. Daar word beraam dat dié kunswerk tussen £3 miljoen en £4 miljoen (R54 miljoen tot R72 miljoen) in die komende Old Masters-uitstalling op 4 Julie sal haal. (Foto: Matt Dunham, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.