Die wêreld in foto’s – 29 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Blik op Londen se Westminster-abdy vanuit die Middeleeuse Triforium, ʼn lokaal meer as 16 m bokant die abdyvloer. Dié lokaal, bekend as The Queen’s Diamond Jubilee Galleries, is van 11 Junie vir die eerste keer oop vir die publiek. Meer as 300 kunsskatte uit die abdy-versameling word uitgestal wat die ryk geskiedenis van dié kerk vertel. (Foto: Frank Augstein, AP)

Veldmaarskalk Khalifa Haftar, die Libiese stafhoof; Aguila Saleh Issa, president van die Libiese huis van verteenwoordigers in Tobruk; Fayez al-Sarraj, voorsitter van die presidensiële raad van Libië en Khaled Mechri, president van Libië se opperraad, woon ʼn internasionale konferensie oor dié land by in die Elysée-paleis in Parys, Frankryk. Verteenwoordigers van 20 lande, insluitende Libië se buurlande, streeks- en Westerse magte asook internasionale organisasies is byeen om Libiese leiers te ontmoet oor ʼn politieke padkaart vir dié land, onder meer met die oog op verkiesings in ʼn poging om orde in Libië te herstel. Libië voed tans onstabiliteit in die streek. (Foto: Etienne Laurent, AP)

Indiese werkers haal Dinsdag dooie visse uit die Ghodasar-meer wat gedeeltelik opgedroog het as gevolg van warm temperature in Ahmadabad, Indië. Honderde visse het in dié meer gevrek as gevolg van ’n hittegolf wat die grootste gedeelte van Noord-Indië getref het. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Rusland se Svetlana Kuznetsova Dinsdag tydens haar afslaan teen Spanje se Garbine Muguruza tydens die eerste ronde van die Franse Ope-tennistoernooi in die Roland Garros-stadion in Parys, Frankryk. (Foto: Michel Euler, AP)

Belgiese polisie Dinsdag op die toneel van ʼn skietery in Luik in die ooste van dié land. ʼn Verdagte het drie mense, onder wie twee polisiebeamptes, in dié Belgiese stad doodgeskiet, het owerhede gesê. Die verdagte is later deur die polisie doodgeskiet. Polisiebeamptes is in die kruisvuur gewond. (Foto: Geert Vanden Wijngaert, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.