Die wêreld in foto’s – 3 April 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Abdel-Malek al-Mekhlafi, minister van buitelandse sake van Jemen, in gesprek met ʼn afgevaardigde voor die hoëvlakbelofte-gebeurtenis vir die humanitêre krisis in Jemen by die Verenigde Nasies se Europese hoofkantoor in Genève, Switserland. (Foto: Salvatore Di Nolfi, AP)

Vlugtelinge uit Afrika dra Dinsdag kettings om slawerny te simboliseer tydens ʼn betoging in Tel Aviv, Israel. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, se besluit om ʼn ooreenkoms waarvolgens vlugtelinge van Afrika hervestig kan word, te vertraag, het Dinsdag kritiek sowel as lof ontlok. Kritici het hom daarvan beskuldig dat hy onder druk van lede van sy koalisie geswig het kort nadat dié plan aangekondig is. (Foto: Sebastian Scheiner, AP)

Passasiers help ʼn vrou op wat Dinsdag by ʼn platform afgeval het toe sy treinspore by die Gare de Lyon-treinstasie in Parys probeer oorsteek het. Franse vakbonde is tans besig met ʼn spoorwegstaking wat dié land se beroemde hoëspoedtreine tot stilstand gebring het en passasiers gestrand gelaat het. Dié staking is tot dusver die grootste toets vir pres. Emmanuel Macron se ekonomiese strategie. (Foto: Francois Mori, AP)

Die rook van brandende aromatiese kruie hang in die lug terwyl vroue Dinsdag in Dharmsala, Indië, wag vir die kis met die oorskot van Aman Kumar, een van die Indiese konstruksiewerkers wat deur die Islamitiese Staat (Isis) in Irak vermoor is. Isis het die werkers ontvoer en vermoor kort nadat dié militante groep die noordelike Irakse stad Mosul in 2014 ingeneem het. Die Irakse owerhede het verlede jaar die oorskot van die oorledenes in ʼn massagraf ontdek nadat hulle Mosul herower het. Die liggame is verlede maand geïdentifiseer. (Foto: Ashwini Bhatia, AP)

Kunstenaars dans met Pakistanse spanbeamptes tydens die hys van die vlag in die Statebondspele-dorp aan die Gouekus van Australië. Die Statebondspele begin Woensdag in dié land. Soveel as 3 500 polisielede en 2 000 lede van die Australiese weermag word ingespan om veiligheid te verseker. (Foto: Manish Swarup, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.