Die wêreld in foto’s – 3 Julie 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Modelle dra Dinsdag skeppings vir die modehuis Chanel se 2018/2019 Haute Couture-herfs-/winterreeks in Parys. (Foto: Francois Mori, AP)

Die Filippynse president, Rodrigo Duterte, salueer tydens ’n kranslegging by die 71ste verjaardagvieringe van die Filippynse lugmag. Dit het plaasgevind by die Villamor-lugmagbasis in Pasay-stad, suid van Manila in die Filippyne. Duterte het die lugmag geloof vir sy rol in die beëindiging van die beleg deur IS-verbonde militante van Marawi-stad in die suide van die Filippyne. Regs van Duterte is die hoof van die Filippynse lugmag, lt.genl. Galileo Kintanar. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Die Serwiese president, Aleksandar Vucic, gesels Dinsdag tydens ’n mediakonferensie met sy Oekraïnse eweknie, Petro Poroshenko, in Belgrado, Serwië. Poroshenko is tans op ’n amptelike eendag-besoek aan Serwië. (Foto: Darko Vojinovic, AP)

Die media wag buite die hoofkantoor van die teenkorrupsie-agentskap in Putrajaya in Maleisië. Die voormalige Maleisiese premier, Najib Razak, is Dinsdag in hegtenis geneem en sal aangekla word vir sy beweerde rol in die multimiljard-dollar-plundering van ’n staatsbeleggingsfonds. (Foto: Vincent Thian, AP)

Die Switserse federale president, Alain Berset (regs), en die Iranse president, Hassan Rohani, spreek Dinsdag die media toe tydens ’n mediakonferensie in Bern, Switserland. (Foto: Peter Klaunzer, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.