Die wêreld in foto’s – 3 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Theresa May, die Britse eerste minister, poseer vir fotograwe nadat sy haar stem in die plaaslike verkiesings by ʼn stemlokaal in Londen uitgebring het. Brittanje stem vandag (3 Mei) vir plaaslike gebiedsverteenwoordigers. (Foto: Matt Dunham, AP)

Onderwysers kamp uit terwyl die Arizona-wetgewer debat voer oor ʼn begroting wat deur die meerderheid Republikeine en die goewerneur, Doug Ducey, by die Capitol in Phoenix onderhandel word. Dié begroting maak voorsiening vir aansienlike verhogings vir onderwysers, maar gee nie aandag aan hul eise vir beter skoolfinansiering nie. Die onderwysers het op die sesde dag van protesaksie ingestem om terug te keer na die klaskamer sodra dié begroting deur die wetgewer goedgekeur is. (Foto: Matt York, AP)

ʼn Vrou van Kasjmir rouklaag Donderdag terwyl sy die skoolhemp van haar broer, Umar Abdullah Kumar, vashou tydens sy begrafnis in Pinjura, 52 km suid van Srinagar, Kasjmir. Regeringsmagte het ʼn soektog in dié suidelike dorpie van die betwiste streek gestaak nadat rebelle tydens ʼn kort skietgeveg oornag ontsnap het te midde van toenemende protesaksie en skermutselings tussen inwoners en troepe. Umar is dood en tientalle ander is gewond nadat Indiese troepe op klipgooiende betogers wat die ontsnapte rebelle gehelp het, losgebrand het. (Foto: Dar Yasin, AP)

Emma Love, ’n tuinboukundige, lei Donderdag plante nat tydens die heropening van die Temperate House by die Kew-tuine in Londen. Die wêreld se grootste kweekhuis het pas heropen ná vyf jaar se herstelwerk. (Foto: Kirsty O’Connor, AP)

Mense by die treinstasie in Seoel, Suid-Korea, kyk na ʼn nuusuitsending van die beelde van drie Amerikaners, Kim Dong Chul (links), Tony Kim en Kim Hak Song (regs), wat in Noord-Korea aangehou word. ’n Twiet van die VSA se pres. Donald Trump het tot verdere bespiegeling gelei dat Noord-Korea moontlik ʼn welwillendheidsgebaar kan maak voor Trump se beplande beraad met leier Kim Jong-un toe Trump op nuwe inligting rakende die status van die drie aangehoudenes gesinspeel het. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.