Die wêreld in foto’s – 30 April 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

’n Nepalese vrou steek Maandag ’n olielamp aan by Boudhanath Stupa tydens Buddha Jayanti, oftewel Boeddha purnima, in Katmandoe, Nepal. Dié fees dui op die drie gebeurtenisse van Gautam Boeddha se lewe: sy geboorte, sy geestelike verligting en sy bereiking van die toestand van Nirvana, wat gelowiges glo uit die sirkel van dood en wedergeboorte bevry. (Foto: Niranjan Shrestha, AP)

Vakansiegangers grawe Maandag in die sand op soek na mossels op ’n strand in Yokohama naby Tokio. Tienduisende mense het op dié strand toegesak aan die begin van die Japannese vakansieweek bekend as die “Goue Week”. (Foto: Koji Sasahara, AP)

Maya Rochat, ’n Switserse kunstenaar, poseer vir fotograwe voor haar kunswerk “A Rock is a River” as deel van ʼn uitstalling by die Tate Modern-galery in Londen. Die publiek kan dié uitstalling, genaamd “Shape of Light: 100 years of Photography and Abstract Art”, vanaf 2 Mei besigtig, en dit duur tot 14 Oktober. (Foto: Matt Dunham, AP)

Michel Barnier, die Europese Unie se hoof-brexit-onderhandelaar, gee Maandag ’n verklaring aan die media tydens die All-Ireland Civic Dialogue-konferensie in Dundalk, Ierland. Barnier lei twee dae se gesprekke rakende Brittanje se ontrekking van die Europese Unie om die situasie aan beide kante van die grens tussen Noord- en Suid-Ierland te evalueer. (Foto: Niall Carson, AP)

’n Vrou stap Maandag verby ’n woonstelblok in Jerevan. Die parlement van Armenië beplan om Dinsdag ’n plaasvervanger vir Serzh Sargsyan te kies. Sargsyan het verlede week bedank weens straatbetogings teen sy verkiesing as eerste minister. (Foto: Thanassis Stavrakis, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.