Die wêreld in foto’s – 30 Augustus 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Foto van hopkegels tydens oestyd naby die dorp Rocov in Tsjeggië. Die produksie van hop wat gebruik word om die Tsjeggiese Republiek se beroemde bier te maak, het met ongeveer 30% afgeneem weens ʼn droogte in dié land. (Foto: Petr David Josek, AP)

Verskeie soorte roomys is Donderdag by die Ample Hills Red Hook-fabriek in Brooklyn, New York, te koop. Ample Hills Red Hook Factory is een van die grootste roomysfabrieke in New York. Daar is ook ʼn klein museum en ʼn winkel in die fabriek. (Foto: Lin Bilin, Xinhua)

Emmanuel Macron, die Franse president, glimlag Donderdag terwyl hy met premier Juha Sipila van Finland gesels tydens ʼn besoek aan die Aalto-universiteit in Espoo, Finland. Macron is in Finland op ʼn amptelike tweedagbesoek. (Foto: Mikko Stig, AP)

Bahrain se Salwa Naser vier Donderdag haar oorwinning tydens die 4x100m-aflosfinaal vir vroue by die 18de Asiatiese Spele in Djakarta, Indonesië. (Foto: Bernat Armangue, AP)

ʼn Aktivis praat Donderdag tydens ʼn optog teen die inhegtenisneming van vyf vooraanstaande regsgesinde aktiviste in Nieu-Delhi, Indië. Indië se hoogste hof het Woensdag beveel dat vyf aktiviste wat in hegtenis geneem is in verband met beweerde Maoïstiese bande in huisarres gehou sal word totdat die hof volgende week beslis oor ʼn aansoek waarin hul aanhouding betwis word. (Foto: Manish Swarup, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.