Die wêreld in foto’s – 30 Januarie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Twee vroue geklee in “hanbok”, die Suid-Koreaanse tradisionele kostuum, neem Dinsdag ’n selfie voor die Gwanghwamun, die hoofhek van die 14de-eeuse Gyeongbok-paleis in Seoel, een van dié land se bekende bakens. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Roger Torrent, die speaker van die Katalaanse parlement, daag Dinsdag vir ’n verklaring by die Katalaanse parlement in Barcelona, Spanje, op. Torrent het die parlement-sitting uitgestel waartydens die streek se vlugteling-president glo herkies sou word. (Foto: Manu Fernandez, AP)

Charles Michel, die Belgiese premier, tweede van regs, woon Dinsdag ’n kranslegging-seremonie by die graf van die onbekende soldaat by die Kremlin-muur in Moskou, Rusland, by. (Foto: Maxim Shemetov, AP)

“Lente-hane” gemaak van kleurvolle katoen op ’n straat van Tancheng in Oos-China se Shandong-provinsie, kondig die koms van Lichun, of die begin van lente en die eerste gebeurtenis op die Chinese maankalender, aan. Dié kleurvolle “lente-hane” word in suidelike Shandong-dorpies verkoop, wat glo geluk vir kinders in die nuwe jaar inhou. (Foto: Zhang Chunlei, Xinhua)

Prins William en Kate, die hertogin van Cambridge, poseer Dinsdag vir ’n foto saam met jong lede van die Hammarby Bandy-sportklub in Stockholm, Swede. Dié Britse koninklikes is op ’n besoek van vier dae aan Swede en Noorweë. (Foto: Jonas Ekstromer, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.