Die wêreld in foto’s – 30 Januarie 2019

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag

Vulkaniese materiaal word uit Berg Merapi in die streek van Cangkringan in Djokjakarta, Indonesië, uitgestoot tydens ’n vulkaniese uitbarsting. Donkerrooi lawa loop teen ’n helling van 1 400 m by Indonesië se onvoorspelbaarste vulkaan af. (Foto: Slamet Riyadi, AP)

Indiese soldate lewer ’n huldeblyk aan Mahatma Gandhi om die dag van sy dood te gedenk by die Rajghat, ’n Gandhi-gedenkteken in Nieu-Delhi, Indië. Op 30 Januarie word Martelaarsdag in Indië gevier ter herinnering aan Gandhi wat op hierdie dag in 1948 doodgeskiet is deur Nathuram Godse, ’n Hindoe-ekstremis. (Foto: Manish Swarup, AP)

’n Ouer en haar kind dra beskermingsmaskers terwyl hulle ʼn skool in Bangkok, Thailand, verlaat om hulself teen die hoë vlakke van lugbesoedeling te beskerm. Meer as 400 skole in Bangkok het opdrag ontvang om vandag te sluit weens die voortdurende hoë vlakke van lugbesoedeling en stofdeeltjies. (Foto: Sakchai Lalit, AP)

’n Palestynse betoger gebruik ’n kettie om Israeliese troepe met klippe te bestook gedurende ’n skermutseling digby die grens met Israel, in die noordelike Gasa-strook. Minstens 15 Palestyne is Dinsdagmiddag tydens dié voorval deur Israeliese soldate gewond. (Foto: Stringer, Xinhua)

’n 3D-gedrukte ontwerp word uitgestal tydens die Creativeworld-uitstalling in Frankfurt, Duitsland. Die fees, ’n internasionale handelsfees vir stokperdjie-, kuns- en handwerkvoorrade, het van 26 tot 29 Januarie plaasgevind en het meer as 360 vervaardigers van meer as 40 lande en streke gelok. (Foto: Lu Yang, Xinhua)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.