Die wêreld in foto’s – 30 Oktober 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Vrou stap verby onvoltooide geboue byna ʼn jaar ná die verwoestende aardbewing in Sarpol-e Zahab, Iran. Dié aardbewing van 7,3 het die Kermanshah-provinsie op 12 November 2017 getref en honderde lewens geëis. (Foto: Ahmad Halabisaz, Xinhua)

ʼn Seuntjie staan Dinsdag langs ʼn brandende vullishoop aan die buitewyke van Nieu-Delhi, Indië. Dié land staal hom vir die afskop van ’n opkomende Hindoe-fees met massiewe vuurwerkvertonings wat dreig om Nieu-Delhi, wat reeds sukkel met lugbesoedeling, verder met giftige rook en stof te besoedel. (Foto: Altaf Qadri, AP)

ʼn Indiërvrou verkleur Dinsdag kleilampe voor die Diwali-fees in Jammu, Indië. Mense koop spesifiek dié lampe om hul huise te versier tydens dié jaarlikse Hindoe-fees van ligte wat op 7 November begin. (Foto: Channi Anand)

ʼn Seun staan onder ʼn seil tydens neerslae wat deur Tifoon Yutu in Pasay-stad, suid van Manila in die Filippyne, veroorsaak word. ʼn Sterk tifoon het Dinsdag dié land getref. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Kinders baljaar in ʼn poel naby die Kolosseum ʼn dag nadat sterk wind en reën Rome getref het. ʼn Atlantiese storm het grootskaalse reën, hael, kragtige winde asook onstuimige seetoestande in Italië veroorsaak. (Foto: Andrew Medichini, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.