Die wêreld in foto’s – 31 Julie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Jong mans spring in die Lusernmeer in Beckenried, Switserland. Hoë temperature word vir die volgende paar dae vir dié streek voorspel. (Foto: Urs Flueeler, AP)

Zimbabwiërs gaan Dinsdag verkiesingsuitslae na wat in Bulawayo aangebring is. Zimbabwiërs het Dinsdag gewag vir die eerste uitslae van Maandag se verkiesing in die hoop dat die uitslag dié land uit ekonomiese en politieke stagnasie kan lig ná dekades onder die leiding van die oudpres. Robert Mugabe. (Foto: AP)

Jonatan Christie van Indonesië Dinsdag in aksie teen Daren Liew van Maleisië in die pluimbal-enkelspel op die BWF Wêreldkampioenskap in Nanjing, China. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Seuns speel Dinsdag in vloedwater buite hul huis naby die Yamuna-rivier in Nieu-Delhi, Indië. Verskeie huise in laagliggende gebiede moes ontruim word nadat dié rivier se watervlak die gevaarmerk verbygesteek het. Die jaarlikse reënseisoen in Indië duur van Junie tot September. (Foto: Altaf Qadri, AP)

ʼn Taxibestuurder neem Dinsdag ’n blaaskans in sy stilstaande taxi waarmee hy die hoofstraat in Madrid, Paseo Castellana, versper. Verkeersknope in party van Spanje se grootste stede kom steeds voor weens taxibestuurders wat betoog teen gedeelde ritte – byvoorbeeld wanneer verskillende mense op kort ritte in een voertuig vervoer word. (Foto: Francisco Seco, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.