Die wêreld in foto’s – 31 Mei 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Toeriste geniet Mayabaai se strand op Phi Phi Leh-eiland in Krabi-provinsie, Thailand. Mayabaai, ’n gewilde toeristebestemming geleë in die Andaman-see, sal vier maande lank vir toeriste gesluit wees. Die doel hiervan is om dié strand se koraalriwwe en seelewe ’n kans te gee om te herstel ná die vernietigende gevolge van byna twee dekades se toerisme. (Foto: Sakchai Lalit, AP)

’n Banier met ’n karikatuur van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, word Donderdag in Seoel, Suid-Korea, vertoon. ’n Senior Noord-Koreaanse amptenaar en Amerika se topdiplomaat het Woensdag in New York aandete gehad terwyl pres. Donald Trump en Jong-oen poog om vooruitsigte vir ’n belangrike kernberaad te red. Dit word bestempel as die hoogste vlak van ’n amptelike Noord-Koreaanse besoek aan die Verenigde State in 18 jaar. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

’n Joernalis steek Donderdag tydens ’n mediakonferensie in Tokio sy hand op om vrae te rig aan Akira Nishino, die nasionale afrigter van Japan se manssokkerspan. Nishino het die 23 lede van Japan se Wêreldbekerspan aangewys. Hy maak baie staat op veteraanspelers wat vorige ervaring van die toernooi het. Regs is die Japannese Sokkervereniging se president, Kozo Tashima. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Mariano Rajoy, die eerste minister van Spanje en die leier van die People’s Party, word deur sy medewetgewers toegejuig tydens die eerste dag van debat oor ʼn mosie van wantroue by die Spaanse parlement in Madrid. Spanje se opposisie-sosialiste het daarin gepoog om kleiner partye te oorreed om eerder hul mosie te ondersteun om Rajoy se konserwatiewe regering uit te stem. (Foto: Francisco Seco, AP)

Keniane hou plakkate omhoog tydens ’n teenkorrupsiebetoging met honderde betogers wat Donderdag na die parlement en hooggeregshof in Nairobi, Kenia, opgeruk het. Kenia se leier verkeer onder toenemende druk weens verontwaardiging oor ’n aantal korrupsieskandale waarby miljoene dollars betrokke is. Dié skandale het in die afgelope weke aan die lig gekom en hou verband met die departemente van gesondheid, energie, landbou, staatsdiens en jeug. (Foto: Ben Curtis, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.