Die wêreld in foto’s – 4 Februarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Klein boot vaar naby die ontspanningskip, Diamond Princess, wat in die Yokohama-hawe naby Tokio geanker is. Japannese gesondheidsbeamptes doen uitgebreide mediese ondersoeke op al 3 700 passasiers en bemanningslede, nadat daar bevind is dat een passasier positief getoets het vir die koronavirus. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Matrose van Sri Lanka vuur kanonne af tydens ʼn geweersaluut ter viering van die herdenking van die land se onafhanklikheid van die Britse koloniale bewind in Colombo, Sri Lanka. (Foto: Eranga Jayawardena, AP)

Betogers neem deel aan ʼn protesoptog buite die parlementsgebou in Canberra, Australië, oor klimaatsverandering en die eerste minister, Scott Morrison, se ondersteuning van die fossielbrandstofbedryf. Parlementslede het slagoffers van die veldbrande in Australië herdenk en die heldhaftigheid van die brandweer tydens die aanhoudende veldbrandkrisis geprys. (Foto: Rod McGuirk, AP)

ʼn Werker loop tussen beddens in ʼn konferensiesentrum wat tydelik omskep is in ʼn hospitaal vir pasiënte met die koronavirus in Wuhan, China. (Foto: Chinatopix, AP)

Sumo-stoeiers het mekaar in ʼn stoeigreep beet tydens opleiding in die Musashigawa Sumo-stal in Beppu, Japan. Die Japannese Sumo-vereniging en plaaslike Olimpiese organiseerders beplan ʼn sumo-toernooi op 12 en 13 Augustus, enkele dae ná die einde van die Olimpiese Spele. (Foto: Aaron Favila, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.