Die wêreld in foto’s – 4 Julie 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Pendelaars ry met huurfietse wat geparkeer is teen ’n bordjie wat die bos in Beijing uitbeeld. Om gemeenskaplike fietse te deel het ’n groot deel geword van mense se alledaagse bestaan in groot Chinese stede soos Beijing. Pendelaars gebruik dié fietse om selfs lang afstande af te lê in dié stede met swaar verkeer. (Foto: Andy Wong, AP)

’n Seun kyk op Filippyns-Amerikaanse Vriendskapsdag toe hoe studente-aktiviste borde met slagspreuke dra tydens hul optog na die Amerikaanse ambassade in Manila in die Filippyne. Die groep sê hulle veroordeel die beweerde toenemende militêre ingryping van die VSA in dié land en het ook gevra vir die verbreking van die Verbeterde Verdedigingsamewerkingsooreenkoms (EDCA). (Foto: Aaron Favila, AP)

Thaise soldate is Woensdag op pad na die ingang van ’n grot waar 12 seuns en hul sokkerafrigter vasgekeer is in Mae Sai in die Chiang Rai-provinsie in die noorde van Thailand. Die Thaise sokkerspan wat al meer as ’n week in dié oorstroomde grot vasgekeer is, kon Woendag op ’n video bevestig dat hulle ongedeerd is. Swaar reën word egter vandeesweek voorspel wat reddingsplanne kan bemoeilik. (Foto: Sakchai Lalit, AP)

’n Wit vlinder en ’n by deel Woensdag ’n blom naby Frankfurt in Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

Die Kosovo Veiligheidsmag (KSF) se erewaak voer Woensdag ’n vlagwisselingseremonie uit wat elke jaar gehou word langs die standbeeld van die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton in die hoofstad Pristina in Kosovo. Dié jaarlikse seremonie wat op die Amerikaanse Onafhanklikheidsdag gehou word, gee erkenning aan die noue emosionele, politieke en ekonomiese bande tussen Kosovo en Amerika. (Foto: Visar Kryeziu, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.