Die wêreld in foto’s – 4 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Duitsland se Maximilian Marterer vee die sweet uit sy gesig in sy vierde ronde-wedstryd van die Franse Ope-tennistoernooi teen Spanje se Rafael Nadal in die Roland Garros-stadion in Parys, Frankryk. (Foto: Christophe Ena, AP)

Nepalese werkers sorteer plastiek vir herwinning by ’n vullisterrein in Katmandoe, Nepal. Die tema vir hierdie jaar se Wêreldomgewingsdag op 5 Junie lui: “Beat Plastic Pollution”. (Foto: Niranjan Shrestha, AP)

Aktiviste van Amnestie Internasionaal asook ander burgerlike groepe betoog Maandag teen die Hongaarse regering se pakket van wetsontwerpe, genaamd “Stop Soros”, by die parlement in Boedapest, Hongarye. Dié wetsontwerp, wat wysigings sal bring aan die maatreëls teen onwettige migrasie, sal na verwagting die volgende dag deur die parlement bespreek word. (Foto Balazs Mohai, AP)

Tienduisende mense woon ’n jaarlikse kersligwaak by Hongkong se Victoria Park by. Dié stad herdenk slagoffers van die Chinese regering se brutale militêre ingryping tydens 1989 se betogings op Beijing se Tiananmenplein. (Foto: Vincent Yu, AP)

Amerikaanse soldate neem deel aan ’n landingsoperasie tydens Baltops 2018, ’n militêre oefening by die Baltiese see naby Nemirseta in die Klaipeda-distrik, sowat 340 km noord-wes van die hoofstad Vilnius, Litaue. ’n Belangrike Amerikaans geleide militêre oefening met sowat 18 000 soldate uit 19 NAVO-lande het in die alliansie se oostelike deel afgeskop met Pole en die drie Baltiese state van Estland, Letland en Litaue wat betrokke is. (Foto: Mindaugas Kulbis, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.