Die wêreld in foto’s – 5 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Ortodokse priester lewer Dinsdag ʼn wydingsdiens voor die Soyuz-FG-vuurpyl by die Russiese Baikonur-ruimtestasie in Kazachstan. Die nuwe Soyuz-sending na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) is vir Woensdag 6 Junie geskeduleer met die Amerikaanse ruimtevaarder Serena Aunon-Chancellor, die Russiese ruimtevaarder Sergey Prokopyev en die Duitse ruimtevaarder Alexander Gerst aan boord. (Foto: Dmitri Lovetsky, AP)

Polisiebeamptes woon Dinsdag die begrafnis van die polisievroue Soraya Belkacemi (44) en Lucile Garcia (54) in Luik, België, by. Dié twee beamptes en een omstander is onlangs in dié Belgiese stad deur ʼn gewapende man doodgeskiet. Die aanvaller is later deur die polisie doodgeskiet en ander beamptes is in dié skietery gewond. (Foto: Geert Vanden Wijngaert, AP)

Nepalese aktiviste neem deel aan ʼn betoging om Wêreldomgewingsdag in Katmandoe, Nepal, te herdenk. (Foto: Niranjan Shrestha, AP)

Mense staan voor die Britse kunstenaar David Hockney se uitstalling Seven Trollies, Six and a Half Stools, Six Portraits, Eleven Paintings, and Two Curtains wat vanjaar op die someruitstalling in die 250ste bestaansjaar by die Royal Academy of Arts in Londen te sien is. Die someruitstalling word sedert 1769 gehou met ongeveer 1 300 werke wat hierdie jaar vertoon word, waarvan die meeste te koop aangebied word. Die uitstalling duur van 12 Junie tot 19 Augustus. (Foto: Matt Dunham, AP)

Mense loop verby ʼn advertensie vir die Nanluoguxiang-kunstefees in Beijing. Die Chinese sensuurraad het ’n stokkie gesteek voor die aanbied van ’n toneelstuk, The Removalists. Die produksie is gekanselleer omdat dit glo kru taal en geweld bevat. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.