Die wêreld in foto’s – 5 September 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Vrywilligers verwyder geel lintjies wat deur Katalaanse separatiste op ʼn heining geplaas is ter ondersteuning van Katalaanse politici wat op aanklagte van aanhitsing in hegtenis geneem is in Premia del Mar naby Barcelona, Spanje. Die gedraaide geel lint van plastiek is tans die grootste wapen in die stryd tussen Katalonië se separatiste en diegene wat die integriteit van noordoostelike Spanje wil beskerm. (Foto: Emilio Morenatti, AP)

Musikante van China se Sichuan Filharmoniese Orkes speel dele uit Giacomo Puccini se La bohème by die Amman Internasionale 2018 Opera-fees in die middestad van Amman, Jordanië. (Foto: Mohammad Abu Ghosh, Xinhua)

Angela Merkel, die Duitse kanselier, sit Woensdag langs die visiekanselier en minister van finansies, Olaf Scholz, by die weeklikse kabinetsvergadering van die Duitse regering in Berlyn. (Foto: Markus Schreiber, AP)

ʼn Brandbestryder stap buite die Nasionale Museum van Brasilië in Rio de Janeiro nadat ʼn brand dié museum wat 200 jaar oud is verwoes het. Die meeste van die museum se versameling van 20 miljoen items is verwoes in die brand. Die Brasiliaanse regering het Dinsdag aangekondig dat ʼn bestuurskomitee aangestel sal word en ʼn fonds op die been gebring sal word om dié museum te herbou. (Foto: Li Ming, Xinhua)

ʼn Voertuig laai ʼn vraghouer by die Kolyadichi-treinstasie in Minsk, Belo-Rusland. Die eerste trein wat vragte met suiwelprodukte vervoer het Dinsdag van Belo-Rusland na China vertrek. (Xinhua)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.