Die wêreld in foto’s – 6 Augustus 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Die silhoeët van ’n vrou op ’n fiets is Maandag sigbaar teen die rook van brandende hooi in Laatzen naby Hannover in noordelike Duitsland. (Foto: Julian Stratenschulte, AP)

Mense by ’n gebou in Tokio neem ’n blaaskans van die hitte met water wat deur middel van fyn mis oor hulle sproei. Die Japanse meteorologiese agentskap het bevestig warm weer heers steeds oor die land met temperature wat tot hoër as 35 grade Celsius in Tokio styg. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Kim Hyo-joon, die voorsitter van BMW-Korea, luister na vrae wat aan hom gerig word tydens ’n mediakonferensie in Seoul, Suid-Korea. BMW se Koreaanse eenheid het om verskoning gevra oor onlangse enjinbrande wat talle motoreienaars daartoe gedryf het om BMW-modelle te bevraagteken. Die mediakonferensie is die maatskappy se mees onlangse poging om die spreekwoordelike vlamme te blus tydens die onlangse omstredenheid van foto’s waar dié Duitse motors aan die brand geslaan het. Die veiligheid van dié handelsmerkmotors word gevolglik nou bevraagteken. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

’n Boer maak Maandag ’n emmer vol druiwe leeg tydens die vroegste begin van die druiwe-oes nóg in die geskiedenis in Loerzweiler, sowat 50 kilometer suid van Frankfurt, Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

’n Indiese student wys haar geverfde handpalms tydens ’n optog in Moembaai, Indië, ter ere van die 73ste herdenking van die Hirosjima-atoombom. Die Amerikaanse aanval op Hirosjima in 1945 het 140 000 lewens geëis. Drie dae later het die Nagasaki-bom ’n verdere 70 000 lewens geëis wat daartoe gelei het dat Japan oorgegee en die einde van die Tweede Wêreldoorlog aangekondig is. (Foto: Rafiq Maqbool, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.