Die wêreld in foto’s – 6 Februarie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Palestyne besig om buitebande aan die brand te steek ná ‘n klopjag Dinsdagoggend vroeg deur Israelse veiligheidsmagte op die dorpie Yamoun naby Jenin aan die Wesoewer. Ahmad Jarrar, die man wat verdink word dat hy agter die moord op ’n inwoner van die Wesoewer sit, is in dié klopjag deur Israelse magte doodgeskiet. (Foto: Majdi Mohammed, AP)

’n Maleisiese man hou handelsyfers dop by ’n beurs in Kuala Lumpur, Maleisië. Markte in Asië is Dinsdag deur nóg ’n dag van verliese op Wall Street skrik op die lyf gejaag, met Japan se Nikkei wat met meer as 7% gedaal het. (Foto: Vincent Thian, AP)

Lede van die VSA se Olimpiese- span kom Dinsdag byeen in die Olimpiese- dorpie in Pyeongchang in Suid-Korea vir ’n verwelkomingsgeleentheid. (Foto: Patrick Semansky, AP)

Mense kyk na Noord-Korea se Mangyongbong-92-veerboot wat lede van dié land se kunsgroep na Mukho Port in Donghae, Suid-Korea, vervoer. Die groep, gelei deur Hyon Song Wol, bekend vir sy leiding van die Moranbong-vrouegroep wat deur die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, met die hand uitgesoek is, sal in Gangneung en Seoel optree voordat hulle huiswaarts keer. (Foto: Lee Jin-man, AP)

Indiese polisiebeamptes bring tydens ’n kransleggingseremonie by die polisiehoofkantoor in Srinagar, Kasjmir, hulde aan hul kollega Mushtaq Ahmad. Volgens die polisie het aanvallers op polisiebeamptes losgebrand en ’n Pakistanse militant bevry om hom na ’n hospitaal te neem vir ’n mediese ondersoek. (Dar Yasin, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.