Die wêreld in foto’s – 6 Januarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Roubeklaer met ʼn foto van die Iranse genl. Qassem Soleimani op pad terug ná ʼn begrafnisseremonie vir hom en sy kamerade in Tehran, Iran. Soleimani en nog sewe ander is Vrydag in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak vermoor. Agter die vrou is ʼn satiriese tekening van die Amerikaanse vlag wat op die muur geverf is. (Foto: Vahid Salemi, AP)

ʼn Student van die universiteit van Jadavpur neem singend deel aan ʼn protesoptog teen Sondag se aanranding deur gemaskerde aanvallers by die Jawaharlal Nehru-universiteit in Nieu-Delhi, in Kolkata, Indië. Gemaskerde aanvallers het studente en onderwysers met stokke op die kampus aangeval en in die proses meer as 20 mense beseer. Lede van die opposisie probeer die aanval met die regering verbind. (Foto: Bikas Das, AP)

Rafael Nadal van Spanje in aksie tydens die stryd om die ATP-beker in Perth, Australië, in ʼn wedstryd teen Pablo Cuevas van Uruguay (Foto: Trevor Collens, AP)

ʼn Kind agter die stuur van ʼn model van die legendariese T-34-tenk uit die Sowjet-era by die Tankodrom-kinderavontuurpark in die Sokolniki-park in Moskou, Rusland. (Foto: Alexander Zemlianichenko, AP)

Geestelikes berei voor vir die besoek van die Grieks-Ortodokse patriarg van Jerusalem, Theophilos III, aan die Kerk van die Geboorte in Israel. Die kerk is gebou bo-op die terrein waar Jesus Christus glo gebore is. Theophilus is op pad na die Wesoewer om Kersfees volgens die Oosters-Ortodokse kalender in Bethlehem te vier. (Foto: Majdi Mohammed, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.