Die wêreld in foto’s – 7 Junie 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Mense loop Donderdag verby ’n advertensiebord in Singapoer met spotprentkarikature van die Amerikaanse president, Donald Trump, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, wat veronderstel is om die inspirasie agter ’n plaaslike gereg, die “Trump-Kim Chi Nasi Lemak”, te wees. Trump en Kim sal volgende week by ’n luukse oord in dié stad bymekaarkom vir kernkragsamesprekings, het die Withuis Dinsdag bevestig. (Foto: Wong Maye-E)

’n Joernalis kyk na pres. Wladimir Poetin tydens sy jaarlikse inbelprogram in Moskou, Rusland. Poetin sê hy het volle vertroue in Rusland se langtermyn- ekonomiese groei. Poetin het Donderdag by die opening van sy jaarlikse inbeltelevisieprogram gesê dat Rusland se bruto binnelandse produk tans 1,5% hoër as ’n jaar gelede is. Hy het dit as klein groei bestempel, maar het ook gesê hy glo dat toekomstige “groei gewaarborg is”. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Lede van ’n Chinese erewag staan Donderdag in formasie voor ’n verwelkomingsseremonie vir Kazakstan se president, Nursultan Nazarbayev, in die Groot Saal van die Mense in Beijing. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Betogers staan Donderdag buite die hooggeregshof in Londen. Die Britse hooggeregshof het Dinsdag kritiek op Noord-Ierland se streng teen-aborsiewette gelewer, maar het wel ’n hofaansoek in dié verband van die hand gewys. (Foto: Frank Augstein, AP)

’n Indiese man met die gesig van die Indiese rolprent-superster Rajinikanth op sy rug geverf, poseer vir ’n foto buite ’n bioskoop in Moembaai, Indië, voordat hy Rajinikanth se nuwe rolprent, Kaala, vir die eerste keer gaan kyk. (Foto: Rajanish Kakade)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.