Die wêreld in foto’s – 7 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Rondloper hond in ʼn straat in Lucknow in die noorde van die Indiese staat Uttar Pradesj. Volgens die polisie is ses kinders in Noord-Indië die afgelope week dood nadat ʼn groep rondloper honde hulle aangeval het. Angsbevange dorpenaars het begin om hul kinders tuis te hou en maak enige honde wat hulle teëkom dood. (Foto: Rajesh Kumar Singh, AP)

Pres. Wladimir Poetin stap Maandag by die Kremlin-paleis in Moskou, Rusland, in om die eed af te lê tydens sy inhuldigingseremonie as Rusland se nuwe president. Poetin het die eed afgelê vir sy vierde termyn as Russiese president. Hy het onderneem om ’n ekonomiese agenda na te streef wat lewenstandaarde reg oor dié land sal bevorder. (Foto: Alexander Zemlianichenko, AP)

Luigi Di Maio, die Five Stars-bewegingsleier, saam met sy kollegas Giulia Grillo (regs) en Danilo Toninelli, spreek die media toe in die Quirinale- presidensiële paleis ná gesprekke met die Italiaanse president, Sergio Mattarella, in Rome. Mattarella sou Maandag nog ʼn dag van konsultasies hou wat ten doel het om te bepaal of enige party of koalisie ondersteuning kan verkry om ʼn regering ná die verkiesing van 4 Maart te vorm. Die verkiesing het egter geen meerderheid in die parlement gelewer nie. (Foto: Angelo Carconi, AP)

Lede van die People’s Liberation Front, ʼn Marxistiese politieke party, hou vlae omhoog tydens ‘n optog wat Werkersdag in Colombo vier. Die regering van Sri Lanka het verlede week geleenthede en optogte ter viering van Werkersdag uitgestel aangesien die weeklikse vieringe van die nasionale fees van Vesak vanjaar tot 2 Mei duur. (Foto: Eranga Jayawardena, AP)

Drie eendjies stap Maandag agter hul ouers aan op ʼn klein paadjie naby die Main-rivier in Frankfurt, Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.