Die wêreld in foto’s – 7 Mei 2019

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Lady Gaga woon Maandag die Metropolitan-kunsmuseum se kostuumbal in New York by. Vanjaar se tema, “Camp: Notes of Fashion”, is geïnspireer deur Susan Sontag se 1964-opstel, “Notes on Camp”. (Foto: Charles Sykes, AP)

Russiese soldate marsjeer op die Rooiplein tydens ’n oefening vir die Oorwinningsdag- militêre parade in Moskou, Rusland. Die parade vind op 9 Mei op die Rooiplein plaas ter viering van dié land se sege in die Tweede Wêreldoorlog, 74 jaar gelede. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die Skotse koninklike regiment marsjeer verby Windsor-kasteel in Windsor in die suide van Engeland, ’n dag ná die geboorte van prins Harry en Meghan Markle, die hertogin van Sussex, se eersteling. Harry en Meghan dink nog aan moontlike name vir hulle babaseuntjie wat minder as ’n jaar na hulle troue gebore is. (Foto: Alastair Grant, AP)

Pakistanse Moslems koop dadels op ’n basaar, ’n gunsteling kossoort vir “iftar”, ’n maaltyd tydens die vastyd. Die basaar is spesiaal deur die regering ingerig vir Ramadan in Rawalpindi, Pakistan. Moslems reg oor die wêreld vier Ramadan as die heiligste maand van die jaar. (Foto: Anjum Naveed, AP)

Pous Franciskus bid voor die standbeeld van Moeder Teresa tydens ʼn gedenkdiens vir haar in Skopje, Noord-Macedonië. Die pous is vir die eerste keer op ’n amptelike besoek aan Noord-Macedonië tydens sy driedaagse reis na die Balkanstate. (Foto: Alessandra Tarantino, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.