Die wêreld in foto’s – 7 September 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Polisie soek Vrydag na vermiste persone ná ’n aardbewing in Atsuma in Hokkaido, Noord-Japan. Die aardbewing van 6,7 het modderstortings veroorsaak wat talle huise onder grond, rots en hout begrawe het. Meer as twaalf mense word nog vermis in Atsuma, ’n dorp met ’n bevolking van sowat 4 600 mense. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Vlamme saai verwoesting tydens die Delta-brand in die Shasta-Trinity Nasionale Park in Kalifornië. (Foto: Noah Berger, AP)

Donald Trump, die Amerikaanse president, stap by die Withuis in Washington in die rigting van die Marine One-helikopter. Trump se topraadgewers het Donderdag baie vinnig outeurskap van ’n anonieme ope brief ontken wat ’n dag vroeër deur The New York Times gepubliseer is. Teenkanting van binne Trump se eie kamp word glo in dié brief onthul. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Frank-Walter Steinmeier, die Duitse president, gesels Vrydag met die Katarese Sheikh, Tamim bin Hamad Al Thani, voor ’n vergadering in Berlyn. (Foto: Kay Nietfeld, AP)

’n Boog van rooi blomme getiteld “Wave” deur die kunstenaar Paul Cummins en ontwerper Tom Piper is Vrydag te sien by die Imperial-oorlogsmuseum in Manchester, Engeland. Dit is die finale uitstalling van “Wave” as deel van ’n vier jaar lange Britse toer. Dié beeldhouwerk sal tot 25 November te siene wees, wat simbolies is van die 100 jaar-gedenking van die wapenstilstand aan die einde van die eerste wêreldoorlog. (Foto: Peter Byrne, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.