Die wêreld in foto’s – 8 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Betogers skree slagspreuke tydens ʼn optog na die presidensiële paleis in Manila in die Filippyne om grondhervorming te eis en te protesteer teen die moorde op soveel as 24 boere in minder as twee jaar. Die betogers, meestal boere, het pres. Rodrigo Duterte die skuld gegee vir die beweerde militarisering van hul gemeenskappe sowel as gedwonge verskuiwings. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Moslems rus terwyl hulle wag vir die einde van hul vasperiode ná die Vrydaggebed by die Istiqlal-moskee in Jakarta, Indonesië. Moslems reg oor die wêreld neem deel aan Ramadan wanneer hulle hulself weerhou van eet, drink en rook van sonop tot sononder. (Foto: Tatan Syuflana, AP)

Kim Jong-un en Donald Trump-nabootsers, Howard X, (regs), en Dennis Alan, (links), besoek Vrydag die Merlion Park, ʼn gewilde toeristebestemming in Singapoer. X vertel dat hy Vrydag, enkele dae voor ʼn beraad tussen die leiers van Noord-Korea en die VSA, in hegtenis geneem is en ondervra is by sy aankoms in Singapoer. (Foto: Wong Maye-E)

ʼn Jong asmalyer word tradisionele vismedisyne in Hyderabad, Indië, toegedien. Elke jaar kom duisende asmapasiënte hierheen om dié visterapie van die Bathini Goud-familie te ontvang. Die remedie is ʼn geheime familieformule van kruie wat oor geslagte heen strek. Die kruie word in die mond van ʼn lewende sardien geplaas waarna dit in vir die pasiënt ingegee word. (Foto: Mahesh Kumar A, AP)

Koningin Elizabeth II van Brittanje, vergesel deur prins Charles, (links agter) en die deken van die Westminster-abdy, dr. John Hall, (regs), by haar aankoms in die Diamond Queen Jubileum-galery. Die galery open op 11 Junie vir die publiek. Dié nuwe galery is meer as 16 meter bokant die abdy se vloer in die Middeleeuse Triforium, ʼn deel wat nog nooit vir die publiek toeganklik was nie. (Foto: Matt Dunham, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.