Die wêreld in foto’s – 8 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

’n Roemeense erewag-soldaat stap weg nadat hy ’n krans neergelê het by die monument in die begraafplaas vir Tweede Wêreldoorlogse Sowjet-helde tydens Oorwinningsdag-vieringe in Boekarest, Roemenië. Veterane, tesame met diplomate en militêre verteenwoordigers, het dié dag – 73 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en die nederlaag van Nazi-Duitsland – Dinsdag herdenk. (Foto: Vadim Ghirda, AP)

’n Brandbestryder probeer ’n brandende bus in die middel van Rome blus. Volgens polisiebeamptes het die brand per ongeluk ontstaan en is dit moontlik deur ’n kortsluiting veroorsaak. (Foto: Massimo Percossi, AP)

’n Armeense weermagbeampte deel ballonne uit tydens ’n saamtrek op die Republieksplein in Yerevan, Armenië. Die Armeense opposisieleier, Nikol Pashinian, dié land se nuutverkose eerste minister, sê dat hy nie op soek is na politieke wraak te midde van die afgelope maand se spanning nie. Pashinian, wat weke van betogings gelei het en gevolglik tien duisende mense gelok en Serzh Sargsyan gedwing het om as premier te bedank, is Dinsdag as eerste minister verkies. (Foto: Stavrakis, AP)

Skoolkinders hou plakkate vas terwyl hulle aan ’n stille protesaksie teen die verkragting en moord op ’n tienermeisie in Ranchi, in die oos-Indiese staat Jharkhand, deelneem. Indiese polisie het Saterdag 14 verdagtes in hegtenis geneem in verband met die ontvoering, verkragting en moord op dié tienermeisie, die mees onlangse geval in toenemende misdade teen vroue in dié land ten spyte van strenger wetgewing. Volgens distrikslanddros Jitendera Singh het die beskuldigdes die meisie van Chatra, ’n dorp in die oostelike Jharkhand-staat, ontvoer terwyl sy Donderdag ’n trouseremonie bygewoon het. (Foto: AP)

Janos Ader, die Hongaarse president (middel), lewer sy toespraak tydens die opening van die nuwe parlement in Boedapest in Hongarye. Die regerende Fidesz-party in koalisie met die Christen-Demokratiese Volksparty het altesaam 133 setels in Hongarye se 199 setel- nasionale vergadering in die algemene verkiesing op 8 April verower. (Foto: Szilard Koszticsak, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.