Die wêreld in foto’s – 9 April 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Gesondheidswerker gee ʼn polio-entstof aan ʼn dogtertjie in Lahore, Pakistan. Volgens ʼn Pakistanse amptenaar begin owerhede ʼn nuwe polio-inentingsveldtog met die doel om 38,7 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf te bereik. (Foto: KM Chaudary, AP)

Die beeldhouwerk van Joe Siffert en die fontein van die Switserse kunstenaar Jean Tinguely word van ʼn vragmotor af gelig. Dié kunswerke word Maandag in Fribourg, Switserland, herinstalleer nadat dit gedurende die wintermaande weens weerstoestande beskadig en nou herstel is. (Foto: Valentin Flauraud, AP)

Die weerkaatsing van mense in die glas van ʼn elektroniese bord wat die saamgestelde indeks van Shanghai en Shenzhen in Shanghai vertoon. Asiatiese aandelemarkte het Maandag gestyg te midde van onsekerheid oor ʼn toenemende Amerikaanse-Chinese tariefgeskil nadat pres. Donald Trump aangekondig het dat ʼn skikking tog moontlik is. Volgens Trump se raadgewers kan ander lande egter verdere druk op Beijing plaas. (Foto: AP)

Pendelaars daag Maandag by die Saint-Lazare-treinstasie in Parys op. Pendelaars word kwaai geraak deur Franse treinstakings, aangesien vakbonde en bestuur daarop aandring dat hulle nie sal ingee nie. Sowat 80% van Franse hoëspoedtreine het Maandag gaan staan toe vakbonde dag vier van drie maande se periodieke staking binnegaan. Ongeveer ʼn kwart van internasionale treine word deur dié staking geraak. (Foto: Thibault Camus, AP)

Werknemers van die maatskappy Sotheby’s dra Joan Miro se skildery genaamd “Femme” wat ʼn geraamde waarde van 10 tot 15 miljoen dollar het. Die meesterstukke van die veilingshuis Sotheby’s se vlagskipverkope in New York word tans in Londen onthul. Dié versameling van meesterstukke, wat baie van die belangrikste artistieke bewegings van die 20ste eeu insluit, sal na verwagting sowat $75 miljoen vir liefdadigheid insamel. (Foto: Frank Augstein, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.