Die wêreld in foto’s – 9 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Straatverkoper deel Vrydag ʼn kopie van die laaste gedrukte weggee-uitgawe van die ikoniese Britse musiektydskrif New Music Express (NME) uit by die Camden-stasie in Londen. Die NME sal eersdaags slegs in digitale formaat beskikbaar wees. (Foto: Frank Augstein, AP)

Indiese paramilitêremagsoldate druk Tibettaanse aktiviste wat in ballingskap is, in ʼn polisiebus tydens ʼn betoging buite die Chinese ambassade in Nieu-Delhi, Indië. Die betoging hou verband met die 59ste herdenking van die dag toe Tibet in opstand gekom het teen Chinese heerskappy. Dit het op 10 Maart 1959 plaasgevind, waarna Tibet se geestelike leier, die Dalai Lama, en duisende Tibettane in ballingskap gelaat is. (Foto: Manish Swarup, AP)

Verteenwoordigers van die 13de Nasionale Volkskongres (NPC) woon die tweede vergadering by van die eerste sessie van die 13de NPC by die Groot Saal van die Mense in Beijing. (Foto: Liu Weibing, Xinhua)

Swartnekkraanvoëls word in die Caohai- nasionale natuurreservaat in die suidweste van China se Guizhou-provinsie gewaar. Dié trekvoëls begin noordwaarts vlieg nadat hulle die winter in Caohai deurgebring het. (Foto: He Huan, Xinhua)

Uitvoerende kunstenaars van China se Nasionale Balletmaatskappy woon ʼn repetisie by vir die 2018 Balletwerkswinkelaand in Beijing, China. Die Nasionale Ballet van China voer op 3 en 4 April vyf van sy oorspronklike werke uit by die agtste aanbieding van dié geleentheid, wat jong kunstenaars en nuwe werke bevorder. (Foto: Jin Liangkuai, Xinhua)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.