Die wêreld se oudste mens sterf

Lucile Randon was 118 jaar oud. (Foto: NICOLAS TUCAT / AFP)

Lucile Randon, die wêreld se oudste mens, is Woensdag in die ouderdom van 118 in Frankryk oorlede.

Randon, ’n Rooms-Katolieke non wat ook suster André heet, is op 11 Februarie 1904 in Suid-Frankryk gebore toe die Eerste Wêreldoorlog nog ’n dekade weg was.

Sy is in haar slaap by haar ouetehuis in Toulon dood.

Randon was aanvanklik slegs bekend as die oudste mens in Europa voordat die dood van Japan se Kane Tanaka verlede jaar haar die oudste mens ter wêreld gemaak het. Tanaka was 119 jaar oud toe sy in April verlede jaar oorlede is.

Die wêreld was in 2021 in rep en roer oor Randon nadat sy haar stryd teen Covid-19 oorwin het. Dit was kort voor haar 117de verjaarsdag. Sy het nie eens geweet dat sy die virus het nie. Sy was wel in daardie stadium reeds blind en in ’n rolstoel.

Die 118-jarige Randon is gebore in die jaar wat New York sy eerste moltreindiens ingestel het en die Tour de France nog net een keer aangebied is. Dit is ook dieselfde jaar wat Paul Kruger, oudpresident van die Republiek van Suid-Afrika, dood is.

Randon het in 2021 aan BFM, ’n Franse radiostasie, gesê sy is nie bang om te sterf nie. “Ek is bly om nog met julle te wees, maar ek wil graag elders wees – by my ouboet, my oupa en my ouma,” het sy destyds oor die radio gesê.

In 2022 het sy aan verslaggewers gesê haar werk en omgee vir ander hou haar aan die gang. “Mense sê werk maak dood, maar werk het my juis aan die lewe gehou; ek het aangehou werk tot ek 108 was.”

Die oudste mens in Frankryk is waarskynlik nou die 112-jarige Marie-Rose Tessier van Vendee, voorspel die langlewendheidskenner Laurent Toussaint.

Toussaint waarsku egter dat dit altyd moontlik is dat daar ’n selfs ouer mens lewe, wat hom- of haarself net nog nie bekend gemaak het nie.

Jeanne Calment handhaaf tans die rekord vir die hoogste ouderdom nog deur enige mens bereik. Calment was 122 toe sy in 1997 in Suid-Frankryk dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Witbaard ·

Dis seker maar omdat sy nie n man gehad het nie, dat sy so oud geword het. :)

Henri ·

Ek gee nie om om baie jare te leef nie. Ek wil net nie oud word nie!

Niklaas ·

Sy was deur twee wereld oorloë en het soveel beleef. Jammer dat sy haar sig verloor het, maar sy was geseend met een lang leeftyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.