Dief sterf in skoorsteen

Die skoorsteen wat oopgebreek is Foto: Kantoor van Fresno County se sheriff

Die skoorsteen wat oopgebreek is Foto: Kantoor van Fresno County se sheriff

ʼn Vermeende inbreker is dood nadat hy in ʼn skoorsteen vasgesit en die huiseienaar ʼn vuur in die kaggel aangesteek het.

Polisiebeamptes van Fresno in Kalifornië is Saterdag omstreeks 15:00 na ʼn huis ontbied ná ʼn klag oor ʼn inbraak ontvang is, het die Fresno-polisie in ‘n verklaring bevestig.

Die huiseienaar het gesê hy het ʼn vuur in die kaggel aangesteek toe ʼn man skielik in die skoorsteen geskree het. Die huis het met rook begin vul en die huiseienaar het probeer om die vuur te blus terwyl polisiebeamptes brandbestryders na die huis ontbied het.

Ongeveer 10 minute ná die oorspronklike oproep het die verdagte nog steeds asemgehaal en binne die skoorsteen beweeg. Brandbestryders het kort daarna die skoorsteen begin oopbreek, maar die man was reeds dood.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte deur die loop van die aand in die skoorsteen geklim het om by die huis in te breek, maar hy het vasgesit. Die eienaar het ʼn dag later by die huis opgedaag, onbewus dat daar enigiemand in die skoorsteen vassit.

ʼn Outopsie sal gedoen word om die man se identiteit en oorsaak van dood te bepaal.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhardt ·

Dit is nou die blinde sambok. Een van ‘n “1000 ways to die”.

Lindy Moolman ·

Klink vir my soos die wolf in die storie van die 3 varkies? Het sy ma dit dan nooit vir hom gelees nie?

Ludwig Visser ·

Hierdie ou het dit nou letterlik hotagter – of is dit hot-onder – gekry!

Poplap ·

Hoop nie die arme ou is na ‘n nuwe tuiste heen wat nog warmer as die skoorsteen word nie.

Muller ·

Sorry kon nie help om te grinnik toe ek die artikel lees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.