Diep grag om Gasastrook dalk ál moontlikheid

Foto: stiripesurse.ro

Foto: stiripesurse.ro

‘n Grag van sowat 30 meter diep reg rondom die Gasastrook is dalk al wat die tonnelbedreiging van dié strook vir Israel en Egipte die hoof kan bied, aldus ‘n woordvoerder van Israel se regering.

Voorheen is ook berig dat Egipte die moontlikheid ondersoek het om ‘n grag tussen dié land en die Gasastrook te graaf wat met die see verbind is. So ‘n grag sou die graaf van tonnels bykans onmoontlik maak.

Dit volg na nog ‘n groep Palestynse insypelaars betrap is na hulle Israel deur ‘n versteekte tonnel binnegekom het.

Israel se premier, Benjamin Netahnyahu, het sy land se burgers gemaan dat die optrede teen Hamas in die Gasastrook nog lank kan duur. Dit blyk dat Israel se intensiewe optrede om die tonnels te vind en buite aksie te stel, nog lank nie tot die vind van al die tonnels gelei het nie.

Inwoners van ‘n nabygeleë kibboets het aan die Christian Science Monitor gesê hulle is meer bekommerd oor die tonnels as oor die vuurpylaanvalle, selfs al het meer as 50 vuurpyle sedert die begin van die offensief in en naby die kibboets geval.

Die meeste van die vuurpyle word deur Israel se lugafweerstelsel, bekend as die Iron Dome, vernietig terwyl dit nog in die lug is. Weens die blote hoeveelheid vuurpyle wat Hamas afvuur, dring ‘n hele aantal egter deur. Hamas het voor die aanvang van die konflik na raming oor meer as 100 000 vuurpyle beskik. Meer as ‘n duisend is reeds afgevuur, en baie is op die grond deur Israelse lugaanvalle vernietig. Hamas is al betrap dat hy vuurpyle in minstens twee skole geberg het. Een van die skole was onder beheer van die VN se humanitêre sending in Gasa.

Intussen verskyn al hoe meer artikels dat die inwoners van Gasa hul simpatie met Hamas begin verloor. Baie het voorheen wel vir Hamas gestem, omdat dié organisasie vrede beloof het.

Terwyl internasionale druk op Israel toeneem oor wat genoem word disproporsionele weerwraak, geniet dié strategie wye steun in Israel. Die argument is dat hoe gouer Hamas besef dit is nie die moeite werd om met sy aggressie teen Israel voort te gaan nie, hoe gouer is daar ‘n kans op vrede.

Bronne: Trouw, Christian Science Monitor, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.