Diereregtegroepe juig oor ‘hartseerste vertoning’ eindig

Foto: African News Agency.

Foto: African News Agency.

Diereregtegroepe is in die wolke ná die Amerikaanse Ringling Bros. and Barnum & Bailey-sirkus Sondag aangekondig het sy deure gaan sluit.

Kenneth Feld, die hoof van Feld Entertainment (wat die sirkus besit), het in ʼn verklaring op die sirkus se webwerf gesê dié sirkus sal in Mei 2017 sy swanesang sing.

“Ná baie oorweging en heroorweging het ons familie die besluit geneem om die Ringling Bros.-sirkus te beëindig. Ons kaartjieverkope het afgeneem en die onttrekking van die olifante uit die vertoning in 2016 was die laaste bloedneushou. Dit, tesame met die hoë bedryfskoste, het die besigheid onvolhoubaar gemaak,” het Feld gesê.

Die onttrekking van die olifante uit die vertoning het gevolg ná erge kritiek van diereregtegroepe soos People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) oor die welstand van die diere.

Peta sê in ʼn verklaring dat die groep verheug is oor dié aankondiging dat die “hartseerste vertoning van wilde diere wêreldwyd” uiteindelik gestaak word. “Ons hoop alle sirkusse wat nog diere gebruik, sal dit ook doen – tye verander tog.”

Wayne Pacelle, uitvoerende hoof van die Humane Society of the United States, het gesê hy besef die sirkus het baie verander oor die jare, maar dat dit nie vinnig genoeg gebeur het nie. “Ons weet dis bittersoet vir die Feld-familie, maar dis ʼn pluimpie vir hulle dat hulle besluit het om weg te doen met ʼn sirkus wat sy wortels het in die onmenslike behandeling van wilde diere as vermaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Adoons ·

Maroela, julle behoort hierdie onder “goeie goed”ook te rapporteer, nie net onder “nuus”nie.

Danie ·

Diere was nog altyd deel van die aantrekkingskrag van ‘n sirkus. Neem die diere weg en maak dan ook terselfdertyd gereed om die deure kort daarna te sluit. Dit maak seker nie so erg saak dat ‘n paar honderd in die geval en dalk ‘n paar duisend in die algemeen hulle werk as gevolg daarvan gaan verloor nie. Dit is nie snaaks as mense afgode van enige ding maak nie. Dit veroorsaak dat hulle tonnelvisie kry. Om ‘n afgod van enige ding te maak is verkeerd (dit sluit diere in). Jy verloor perspektief.

My tweesent bydrae ·

Is daar n verskil tussen om n olifant toertjies te leer en om n pappegaai te leer praat ?

Roxy ·

Ek stem saam!!! Wat van al die families wat nou geen inkomste gaan he nie?? Die ‘mensdom’ sal moet vinnig wakker skrik…

Helene ·

Baie bly daaroor. Diere hoort nie in ‘n sirkus nie. Finish en Klaar!

Klaas ·

Diereregte groepe gaan nog die oorsaak wees dat daar geen wildlewe meer gaan wees ni. Gaan kyk net in Botswana wat gebeur agv oorbeweiding.

TM ·

Kan ‘n sirkus nie bestaan sonder diere nie? Ek sal veel eerder na mense kyk met ongelooflike waaghalsige toertjies en vermaak as diere wat in ‘n sirkel loop en af en toe hulle poot oplig met ‘n bal op hulle kop. Ek is ‘n groot diereliefhebber en ek moet eerlik wees die diere in ‘n sirkus het my altyd verveel, maar die mense met hulle talent het my verstom. Ek is seker hulle kan ‘n plan maak om mense hulle werk te laat behou en met nuwe tegnologie en truuks die mense te lok sonder diere.

M'Lady ·

Nee Roxy, die mensdom moet begin wakker skrik oor wat hulle aan die diere op hierdie planeet doen. Weet julle enigsins iets af van die lyding wat hierdie diere moet deurmaak om hulle sover te kry om hierdie toertjies te doen. Google gerus “12 Things Ringling doesn’t want you to know”.

m ·

Sirkusse is n onding en diere word gemartel om toertjies aan te leer. Mense het net geen respek vir diere nie. Hulle het ook gevoelens en kan ook pyn voel.. Hulle kan ongelukkig nie vir hulle self praat nie..

Mina ·

Ons was onlangs by The Great Moscow Circus, fantastiese show sonder diere! Wilde diere behoort in die wild, klaar. Dit is ‘n skande dat Suid Afrika nog wilde diere in optredes toelaat.

CQ ·

En dan is daar nogsteeds mense wat dit goedpraat! Diere hoort nie in n sirkus nie. Auzie Sirkus was baie goed. Geen diere. Net mense met fantastiese talente.
Jammer aan DIE wat hul werk verloor, maar dis omdat mense “afgode” maak van geld en hartelose entertainment dat hulle nou in hierdie boodjie sit….

Jan S ·

Jou Wagter se oer voor-ouers was ook eers wilde diere, oor die eeue is hulle bloot mak gemaak. So hoekom is dit OK as jy self ‘n dier vir jou persoonlike vermaak aanhou en vir ou Wagter toertjies leer, maar ‘n sirkus mag dit nie doen nie? Dis ‘n dubbele standaard, die pot kan nie die ketel verwyt nie.

Johan Venter ·

Tenminste is die diere veilig, versorg, daar word hul nie van hul eerbied gestroop, doodgemaak en verkoop vir allerhande muti’s nie.

Pieter de Kock ·

Baie goeie nuus. Sirkus vanaand in Riversdal maar ek sal dit nie ondersteun nie omdat daar diere in is!!!

Theresia ·

Baie goeie nuus vir die diere. Daar’s heelwat sirkusgroepe wat baie suksesvol is sonder enige diere. Hopelik sien Boswell die lig.

Savethetigerplz ·

Uiteindelik. ek hoop almal wêreldwyd se deure sluit binnekort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.