Dieretuin sluit ná trop wolwe ontsnap

Argieffoto (Foto: Pixabay)

’n Dieretuin in die suide van Frankryk se deure is Vrydag tydelik vir die publiek gesluit nadat nege wolwe uit hul afgekampte gebied ontsnap het. Die voorval het plaasgevind terwyl die dieretuin oop was vir die publiek.

Die voorval het verlede naweek by die Trois Vallées-dieretuin in Montredon-Labessonnie in die Tarn-streek plaasgevind. Die wolwe het glo pas by die dieretuin aangekom.

Sauveur Ferrara, eienaar van die dieretuin, sê die wolwe het ontsnap nadat hulle sekuriteitsinstallasies vernietig het. Die trop het egter nooit die grense van die dieretuin verlaat nie.

Niemand is in die voorval beseer nie omdat die dieretuin onmiddellik ontruim is. Daar was ook nie op daardie tydstip baie besoekers in die dieretuin nie.

Vier van die wolwe is deur dieretuinpersoneel doodgeskiet en vyf ander is deur plaaslike amptenare op die toneel verdoof.

“Weens die abnormale en gevaarlike gedrag van sommige van die wolwe is vier van hulle ongelukkig deur die personeel van kant gemaak,” het Ferrara gesê.

Die dieretuin is tydelik gesluit sodat die nodige veiligheidsmaatreëls getref kan word voordat die publiek weer in die dieretuin toegelaat word.

Die dieretuin het reeds in Oktober verlede jaar ʼn sluitingsbevel ontvang oor veiligheidsmaatreëls, maar dit is toe deur ʼn hof nie gehandhaaf nie.

Die dieretuin beplan om teen die middel van volgende maand weer te heropen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.