Diplomate onttrek wyl Taliban wag om beheer te neem

(Foto: AFP)

Die Taliban was Sondag op die rand van ’n totale oorwinning in Afghanistan, met sy vegters wat beveel is om aan die buitewyke van Kaboel te wag.

Die regering het toegegee dat hy hom voorberei op ’n oordrag van mag met Kaboel wat die enigste stad is wat nog onder regeringbeheer is.

Die Taliban sal vir die eerste keer in twee dekades weer in beheer van Afghanistan wees nadat die Amerikaanse weermag hom uit die kussings gelig het ná die terreuraanvalle van 11 September 2001 op Amerika.

President Ashraf Ghani, wat na verwagting binnekort sal bedank, het ’n beroep op die veiligheidsmagte gedoen om wet en orde te handhaaf. Duisende polisielede en ander gewapende lede is egter nie op hul pos nie en het hul uniforms en wapens oorgegee.

Die regering het aangedui dat onderhandelinge onderweg is om bloedvergieting in Kaboel te probeer verhoed en mag aan die Taliban oor te gee.

’n Woordvoerder van die Taliban het gesê hulle wil “in die komende paar dae” beheer oor Afghanistan neem. “Ons wil oor die volgende paar dae ’n vreedsame oordrag hê,” het Suhail Shaheen aan die BBC gesê.

Die Taliban het onder meer beheer van twee tronke naby Kaboel geneem en duisende gevangenes vrygelaat. Die Taliban se dreigende oorname het vrees en paniek onder inwoners van Kaboel veroorsaak. Inwoners het vir ’n tweede agtereenvolgende dag op banke toegesak om hul spaargeld te onttrek.

Die Taliban het die afgelope paar weke beheer oor al die groot stede geneem en duisende inwoners het reeds gevlug uit vrees vir die regering wat die Taliban moontlik daar sal stel wanneer hy beheer neem.

VSA onttrek diplomate

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Pres. Joe Biden het opdrag gegee dat ’n bykomende 1 000 Amerikaanse troepe ontplooi moet word om ambassadewerknemers en duisende Afghane wat vir Amerikaanse magte gewerk het, na veiligheid te neem.

Die afgelope paar dae is 3 000 Amerikaanse soldate ook ontplooi en was daar sowat 1 000 troepe in die land oor nadat Biden in Mei aangekondig het dat hy Amerikaanse troepe uit Afghanistan gaan onttrek na ’n millitêre teenwoordigheid van 20 jaar. Daar is gehoop om die proses teen 11 September te voltooi.

Biden se besluit loop intussen onder al meer kritiek deur. “Ek is die vierde president om die aanwesigheid van Amerikaanse troepe in Afghanistan te bestuur – twee Republikeine, twee Demokrate. Ek sou sal nie hierdie oorlog aan ’n vyfde [president] oorgee nie,” het Biden gesê.

Britse parlement dalk herroep

Die Britse premier, Boris Johnson, sal intussen poog om die parlement volgende week van sy reses te herroep oor die ontwikkelende krisis in Afghanistan.

Parlementslede sal waarskynlik teruggeroep word vir ’n dringende debat oor wat Brittanje, wat 457 troepe in die twee dekades lange oorlog verloor het, volgende moet doen, het bronne in Downing Street aan Sky News en die Press Association gesê.

Johnson het Vrydag beloof dat Brittanje nie sy rug op Afghanistan sal keer nie, kort nadat daar met ’n proses begin is om die meeste van sy ambassadepersoneel te onttrek. Brittanje het sowat 600 troepe ontplooi om sy nagenoeg 3 000 burgers te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Tiptol ·

Ek sidder as ek die artikel lees. Wat is SA se toekoms? Voel of so iets vir ons wag.

Jacobus ·

Moet nooit Saigon vergeet nie. Biden, geskiedenis gaan jou swaar oordeel. Moenie dink jou soldate gaan jou óóit weer verdedig.

Human ·

Trump het ‘n ooreenkoms met Taliban en Afgaanse regering onderteken, dat Amerikaanse magte einde Mei 2021 sal ontrek. Biden bly by die ooreenkoms. Die stommerike en kansvatters kan nou weer hulle bekke uitspoel om hulle self en diegene wat hul glo gelukkig te hou.

Vrijburger ·

Jy vergeet gerieflikheidshalwe, natuurlik om jou naratief te pas, dat na inhuldiging Biden aangekondig het dat die finale ontrekking van VSA magte aangepas word na 31 Augustus. Maar tipies die integriteitlose Biden-administrasie was dit bloot oe verblindery. So het hulle bv die Bagram Lughawe, wat die episentrum van die VSA magte was, verlaat sonder om die nuwe Afgaanse bevelvoerder in te lig of te oorhandig, het soos diewe in die nag van 6 Julie weggesluip. Oa 5,000 krygsgevangenis net so gelos. Verder is die basis geplunder ens voor die Afgaanse magte beheer kon neem. Wat veronderstel was om ‘n ordelike ontrekking, oorhandeging en ooreenkoms met alle partye te wees het onder die Biden-administasie in chaos verander.

Stommerik(k)e en kansvatters? Sê jy.

Human ·

Wie het so min gedink van die Afghaanse regering, dat hy hul nie laat insluit het by die onderhandelinge in Februarie 2020 oor die onttrekking? As die skoen jou pas trek hom aan.

James ·

Vrijburger: Die geheim tot ‘n gelukkige lewe – Moenie met dwase probeer argumenteer nie. Moenie die tyd neem om Human te antwoord soos jy bo gedoen het nie. Glimlag net, en draai weg. Spandeer jou energie sinvol.

Human ·

Siestog! Gooi jy ook ‘n stuiwer in die armbeurs en “Practise what you preach”.

Pieter ·

Selfde gebeur in Suid Afrika. Kamstige druk om apartheid op te hef en ‘n “demokratiese” regering aan bewind te kry. Sit nou met ‘n kriminele organisasie wat baas is oor die land,terwyl almal in en buite die land plunder en vir ons lag, wat ons is nie meer ‘n magsfaktor nie. Mooi uitgeskakel in die kompeterende wêreld. Bakhand staan is al wat die land se leiers kan.

Dirk Mostert ·

Moenie so pessimisties wees nie. “The Great Reset” m.b.v. die entdemie kan uiteindelik tot ons voordeel wees. mits die oorgrote meerderheid van ons volksgenote daarbuite bly.

A ·

Vreemd hoe mense wat preek oor “Godgegewe regte” en “persoonlike verantwoordelik” kritiseer vir Biden.

As jy te sleg is om jouself te verdedig (nadat jy 20 jaar gehad het om voor te berei) dan verdien jy om oorgeneem te word.

Inteendeel, Biden doen net wat Trump beloof het.
“I got elected on bringing our soldiers back home.”

En soos die groot man sê, “Promises made, promises kept.” (ek wens ek kon handjie emojies hier gebruik)

Dirk Mostert ·

Die Taliban het oorgeneem en die President het landuit gevlug. Weereens vlug Amerika, stert tussen die bene, uit ‘n land, netsoos destyds in Vietnam gebeur het. Joe Biden behoort seppuku te pleeg om die oneer waarvoor hy verantwoordelik is te probeer versag.

James ·

Ek kan nie wag vir Leopoldt Scholtz se volgende geskrif, waarin hyvir almal vertel dis eintlik Trump se skuld nie!

James ·

Ou Leopoldt het REEDS vir NW24 geskryf. Hy maak nou asof dit ‘n komplekse aangeleentheid is – noudat hy nie vir Trump kan blameer nie.

Hy probeer, maar kom dan agter dit gaan nie werk nie. Jy kan sien hoe hy swaarkry deur sy hele rubriek met die oormatige gebruik van aandagtekens en kommas.

Kan jy dink hoe seer sy brein moes kry in sy pogings om die blaam weg te neem van Biden en die Demokrate? Het hulle Disprin in Belgie?

James ·

Min mense verstaan die geo-politiese impak van hierdie gebeurtenis. Min mense weet waar Afghanistan is – en glo “dit traak my nie.” Die baie, wat nooit geskiedenis lees nie. Om dit te kan verstaan – moet jy bereid wees om China te sien vir die opkomende monster wat dit is, en niemand is bereid om so lelik te wees nie. Dalk kan Dr Scholtz vir ons iets skryf oor hoe China en Rusland se invloedsfeer oornag uitgebrei het met die val van Afghanistan? Hy kan dalk ook vir ons skryf oor hoe Indie nou in gevaar is – synde die Taliban gerieflik vanuit Pakistan binne ‘n week Afghanistan oorgeneem het? Ek reken hy sou kon. Hy moet net eers ontslae raak van sy TDS, en weer ‘n eerlike historikus word. Trump is weg. Biden is President – vir nog 3 jaar en 6 maande. Kan ons nou maar oor Biden skryf? Indien nie – hoekom nie?…….

MT ·

Goeie stukkie kommentaar.

Die finale ondergang van Kaboel is uitstekende nuus vir die kommuniste in Beijing.

Ek was nog altyd van mening dat wanneer kommunisme (in al sy vieslike vorms) handevat met radikale islam (in al sy vorms), die wereld voor sy grootste uitdaging – naas die sondeval in die tuin van Eden – sal staan.

Tyd sal leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.