Dis ‘Baby, baby, baby’ vir Justin, Hailey Bieber

Justin en Hailey Bieber gaan ouers word. (Foto: Justin Biebier/Instagram)

Die Kanadese popster Justin Bieber en sy supermodel vrou, Hailey, betree binnekort ʼn splinternuwe fase in hul lewens, naamlik ouerskap.

Dié egpaar het die nuus oor Hailey se swangerskap met hulle eersteling Donderdag in ʼn plasing op sosiale media bekend gemaak.

Sedert die aankondiging het meer as 20 miljoen mense op die paartjie se onderskeie plasings gereageer.

In die video wat op sosiale media gedeel is, soen Justin en Hailey voordat ander skote op haar groeiende babamagie fokus.

Tientalle bekendes, onder meer Gigi Hadid, Kendall Jenner, Donnatella Versace en Kim Kardashian, het die paartjie gelukgewens.

“Ek is soooooo bly vir julle albei! Geluk!” het Donnatella se gelukwensing gelui, terwyl Kendall weer gesê het dat die “trane vloei” nadat sy die aankondiging gesien het.

Die paartjie het reeds in 2023 aan The Sunday Times gesê hulle beoog om hulle gesin uit te brei, maar dat hulle “bang” is daarvoor.

“Dit is genoeg dat mense goed sê oor my man of vriende. Ek kan nie myself indink om te sien hoe mense goed oor ʼn kind sou sê nie,” het die 27-jarige model verlede jaar gesê.

“Ons kan maar net ons bes doen om hulle groot te maak. Solank hulle geliefd en veilig voel.”

Die paartjie het in 2018 tydens ʼn geheime seremonie getrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.