Dis ʼn lang sit op wêreld se rekordvlug

Die Airbus A350-900ULR word op die wêreld se langste vlug gebruik. Foto: Airbus

Die langste handelsvlug, wat gister vir die eerste keer tussen Singapoer en New York afgelê is, strek oor ʼn allemintige 15 250 km en duur 18 uur en 25 minute, berig die BBC.

Dis soos om 06:00 op te staan en wakker te bly tot middernag, plus nog ʼn halfuur vir goeie geluk – alles in die beperkte ruimte van ʼn vliegtuig.

Singapore Airlines se nuwe, ononderbroke vlug vertrek om 23:35 plaaslike tyd met ʼn Airbus A350-900ULR vanaf dié stadstaat se Changi-lughawe na die Newark Liberty Internasionale Lughawe. Dis eintlik 19 km anderkant die staat New York se grens in New Jersey geleë, maar dis een van die Groot Appel se drie vernaamste lughawens.

Die vorige langste ononderbroke vlug was Qatar Airways se 17 uur 40 minute lange marathonvlug van die oliestaat se hoofstad, Doha, na Auckland, Nieu-Seeland.

Volgens Singapoer se nasionale lugredery hoef passasiers op die nuwe langste vlug hulle nie oor beknopte sitplekke te bekommer nie. Die vliegtuig is met twee klasse uitgelê: 67 sitplekke in besigheidsklas en 94 in premium-ekonomieklas.

Die lugredery se webwerf dui die prys van die ellelange vlug aan as vanaf sowat R23 500 in premium-ekonomieklas en meer as R72 000 in besigheidsklas, berig die Britse dagblad The Independent.

In die eerste week sal die roete net drie keer bedien word, maar daarna wil Singapore Airlines die afstand elke dag aflê. Vantevore moes passasiers oor Frankfurt in Duitsland tussen die twee stede vlieg.

Maar die Britse dagblad The Telegraph berig dié roete kan sy eretitel binne vier jaar ontneem word wanneer die Australiese lugdiens Qantas met die eerste ononderbroke vlug tussen Sydney aan die land se ooskus en die Britse hoofstad, Londen, wil begin.

Die beplande roete tussen Sydney en Londen is 16 920 km lank, sowat 1 700 km langer as die nuwe rekordhouer en 2 400 km langer as die Qatar-vlug, wat Donderdag onttroon is.

Qantas het onlangs ʼn onderbroke vlug van 14 400 km tussen Perth en Londen ingestel en oorweeg nog watter model vliegtuig hulle vanaf 2022 vir die rekordvlugte met sy 300 passasiers wil gebruik, die Airbus A350 of die Boeing 777X.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gerhard ·

Dit is ‘n oornag vlug en jy sal verseker nie wakkerbly vir 18 en ‘n half uur nie. ;-)

KS ·

@Stuiwer, enige internationale vlug meer as 5 ure is daar 4 aan diens(soms 5) en 2 engineers. en nie een mag dieselfde as die ander eet of drink nie.

Cherokee ·

Yip, KS is heeltemal reg. Hulle mag selfs nie dieselfde eet of drink nie. As een groep byvoorbeeld Castle drink moet die ander Black Label geniet.

JJ ·

Het al die Qatar ene paar keer gevlieg, en vlieg die nuwe rekord ene begin November, kan nie wag nie! LOL sien nie uit nie, haaaat langvlugte, maar dis beter as om te sit en wag vir konneksies.

zoom zoom ·

Dit is solank as wat ons by dept van binnelandse sake moet wag om gehelp te word vir id en paspoorte. Tensy Gigaba jou vriend is.

humor ·

zoom zoom en die pynlike is, daar is nie n enkele vriendelik lugwaardin nie wat jou roete korter laat voel nie.

Seeskulp ·

Skerp! Jy is so reg. Ek en my dogter het dit gister weer beleef na n derde probeerslag vir paspoorte. Jy staan al van 5 uur soggens in ry om een vd gelukkiges te wees om ingelaat te word vir die dag kwota. Dan loop jy steeds in die middag eers uit…as jy wel gehelp is en hulle nie weereens van lyn af was nie.

Cul ·

@Seeskulp, gaan FNB toe. My nuwe een, afspraak 15min 2weke later het ek hom. of Cullinan, 10min in die ry, nie eens n week later nie, het ek hom.

Cherokee ·

Cul, praat jy van ID’s of paspoorte, want die Seeskulp praat van paspoorte. Waarskynlik praat jy van ID’s. En FNB doen dit seker slegs vir kliënte.
Seeskulp, vir ons paspoorte betaal ons bietjie meer maar werk deur ‘n agent. Dink dit was Mr Passport. Toe ons instap was daar ‘n dame van vroeg af in die ry en een persoon vanaf heel voor. Ons het by haar oorgeneem. Enkele minute.

WitBlits ·

Skulpie & Chero
By FNB kry jy jou ID en paspoort per afspraak!
Dit kos nie veel nie en dis beskikbaar vir enige persoon.
Maak jou afspraak en geen afrikatyd verkwisting nie, want geen afspraak = persoon word nie gehelp nie – GEEN INSTAPDIENS nie!!

Alida ·

Ek dog dan ons glibberige minister het werk gemaak van die lang toue of was dit net n hoopvolle gedagte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.