Dis nou sir Lewis Hamilton ná groot eer vir Britse jaer

Die Britse renjaer Lewis Hamilton. (Foto: Tolga Bozoglu/AFP)

Lewis Hamilton is tot ridder geslaan in Engeland se tradisionele Nuwejaar-erelys nadat hy Michael Schumacher se rekord van sewe Formule Een-wêreldtitels geëwenaar het. Die lys vereer uitstaande prestasie op verskeie gebiede waaronder vermaak, sport en politiek, asook die bydraes van gewone burgers.

Daar was vanjaar talle toekennings vir diegene wat oplossings vir die probleme wat deur Covid-19-pandemie veroorsaak is, probeer vind het.

Die 35-jarige Hamilton het Schumacher se rekordgetal oorwinnings verbygesteek tydens ʼn uitmuntende 2020-seisoen wat weens die pandemie verkort is. ʼn Groep Britse LP’s het die eerste minister, Boris Johnson, verlede maand gevra om die jaer vir ʼn ridderskap te benoem.

Hamilton, wat in Monaco woon, was al voorheen in die spervuur oor belasting, maar het volgehou dat hy ʼn beduidende bedrag belasting in Engeland betaal.

Die Mercedes-bestuurder is die afgelope ruk ʼn uitgesproke voorstander van gelykheid, diversiteit en omgewingskwessies en het verskeie sterk stellings oor demokrasie en rassisme gemaak. Hy het voor al sy wedrenne die knie gebuig om teen rasse-ongeregtigheid te betoog en Mercedes het sy kleure hierdie seisoen van silwer na swart verander om meer klem op die kwessie van diskriminasie te plaas.

Die Mercedes-baas Toto Wolff het gesê Engeland kan trots wees om ʼn ambassadeur van Hamilton se aansien te hê.

Damon Hill, wêreldkampioen in 1996, het aan Sky News gesê Lewis het opgestaan vir kwessies wat hom na aan die hart is en almal raak.

“In ons sport is dit baie raar vir ʼn jaer om by enigiets buite Formule Een betrokke te raak. Lewis het egter gesê dit raak elke swart mens en hy het opgestaan op ʼn tydstip dat dit sy loopbaan en sy fokus kon omverwerp,” het Hill gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.