‘Dispuut’ lei tot skietery by Super Bowl-parade

Mense vlug soos die skote klap. (Foto: ANDREW CABALLERO-REYNOLDS / AFP)

ʼn Dispuut het vandeesweek se skietery by die Kansas City Chiefs se Super Bowl-oorwinningsparade tot gevolg gehad.

Twee jeugdiges is onder diegene wat tans in polisieaanhouding is in verband met die voorval in Kansas City in die VSA.

“Daar is geen verband met terrorisme of gewelddadige ekstremisme nie. Dit blyk ʼn dispuut tussen verskeie mense te wees wat in geweervuur geëindig het,” het Stacey Graves, Kansas City se polisiehoof, Donderdag aan verslaggewers gesê.

“Ons het [verdagtes] in aanhouding, waarvan twee jeugdiges is. Ons werk daaraan om die betrokkenheid van ander te bepaal,” het Graves gesê en bygevoeg dat verskeie vuurwapens opgespoor is.

Volgens die polisie is een persoon, die 43-jarige Elizabeth Galvan, in die skietery dood. Die plaaslike radiostasie KKFI het Galvan egter as DJ Lisa Lopez-Galvan geïdentifiseer.

Lopez-Galvan se seun en twee ander familielede is in die voorval gewond.

Luidens inligting was 11 kinders teen Donderdag nog in die plaaslike Children’s Mercy Hospital in Kansas City. ʼn Woordvoerder van die hospitaal sê die kinders behoort almal te herstel.

Die hospitaal het in geheel 12 slagoffers ná die skietery behandel, nege met skietwonde en die res met “ligte beserings”.

Volgens die polisie was minstens die helfte van die slagoffers jonger as 16.

Graves het Donderdag diegene in die skare bedank wat “ʼn persoon wat glo by die voorval betrokke was, fisiek voorgekeer het”.

Paul Contreras, wat die parade saam met sy drie dogters bygewoon het, het een van die aanvallers platgeduik en ontwapen net voordat die polisie op die toneel gekom het.

“Ek was in die regte posisie en kon hom van agter af duik. Toe ek hom tref, het ek die vuurwapen óf uit sy hand gestamp óf uit sy mou,” het hy vroeër vandeesweek aan verslaggewers van CNN verduidelik.

“Ek het hom platgeduik en al my gewig op hom geplaas, toe nog ʼn barmhartige samaritaan my kom help het.”

Maroela Media het vroeër berig die aanval het plaasgevind oomblikke nadat Chiefs-spelers ʼn juigende skare toegespreek het.

Terwyl skote geklap het, het verskrikte ondersteuners gespartel om skuiling te soek terwyl polisie gespook het om die Union-stasiegebou te ontruim – ’n tragiese einde aan ’n feestelike oggend om Sondag se NFL-voetbalkampioene te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Pleks gaan hulle kerk toe. Daar is mos genoeg tyd om al hierdie tipe goed op ‘n Saterdag te doen!!!

Koen ·

Net soos die goddelose rugby spelers. Speel wêreldbeker op Sondae en almal kyk.

Anonymouse ·

Nie almal is kerklik nie, en julle kan nie julle reels afdwing op ander mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.