Dit is amptelik: Olimpiese Spele vind nie vanjaar plaas

Die Olimpiese vlag.

Na vandag se telekonferensie tussen belanghebbendes is gesamentlik besluit dat die 2020 Olimpiese Spele nie vanjaar sal plaasvind nie.

Japan se eerste minister, Abe Shinzo, en ander regeringslui was in samesprekings met gesaghebbendes van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) soos Thomas Bach, president, en Christophe de Kepper, direkteur-generaal.

Albei partye het hul kommer oor Covid-19 uitgespreek. Die virus het ʼn enorme impak op mense se lewens, sowel as atlete se voorbereidingswerk vir die Spele. Ten tye van hul vergadering het meer as 375 000 mense wêreldwyd reeds die virus opgedoen en die getal groei omtrent by die uur.

In ’n gesamentlike verklaring het Shinzo en Bach geskryf dat die 32ste Olimpiese Spele tot ’n datum ná 2020 geskuif sal word, maar nie later as die somer van 2021 nie.

Die organiseerders en leiersfigure glo vas dat die Olimpiese vlam egter steeds die lig aan die einde van ’n donker tonnel kan wees: ’n Baken van hoop vir alle mense.

Juis om die rede sal die Olimpiese vlam in Japan bly brand. Daar is ook ooreengekom dat dié Spele as die Tokio-spele van 2020 bekend sal bly staan.

Vroeër het Suid-Afrika se voormalige Olimpiese kampioen, Cameron van der Burgh, amper gepleit dat die Spele uitgestel moet word.

Die 31-jarige Van der Burgh het oor die naweek op Twitter geskryf dat hy al die afgelope twee weke teen Covid-19 baklei.

“Atlete sal aanhou oefen en voorberei vir die Spele omdat daar nog geen finale uitsluitsel is of dit voortgaan of nie. Sodoende stel hulle hulself onnodig bloot aan die virus,” het hy getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phillip ·

Oor ‘n week gaan daar niks sportnuus wees om oor te berig nie :( die Game Channel op DSTV is al wat gaan voortgaan

Niklaas ·

Ek het glad nie gedink dis moontlik nie , het dit verwag , met die skare en vliegtuie probleem in hierdie krises tyd met die Corona virus. Nou wonder ek net waarvoor betaal ek vir die duurste DSTV pakket wat die tennis, rugby en die Spele sou insluit ? Ek is nie so gek oor sokker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.