‘Dit is tyd om te praat, Moskou’ – Zelenski

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: Ukrainian presidential press service/AFP)

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het Saterdag gesê dit is tyd dat hy betekenisvolle gesprekke direk met Moskou begin sodat die skade wat Rusland en die Russe aan hulself rig nou beperk kan word.

Die twee lande onderhandel al vir ʼn geruime tyd met mekaar, maar dié gesprekke het nog min vordering getoon.

“Dit is tyd om byeen te kom, te praat en die konsep van territoriale integriteit te hernu sodat regverdigheid vir Oekraïne geskied,” het Zelenski in ʼn video gesê.

“Anders sal Rusland se verliese so erg wees dat talle generasies hierna nie daarvan kan herstel nie.”

Rusland se magte is onlangs tot ʼn stilstand geroep weens groot teenstand deur Oekraïne. Volgens ʼn Amerikaanse verdedigingsbeampte is Russiese troepe sowat 30 km van Kiëf vasgekeer.

Die Russiese magte het glo ook geen verdere vordering gemaak in die noordoostelike stad Kharkiv nie nadat hulle deur Oekraïense soldate omsingel is.

Brittanje se ministerie van verdediging sê Rusland sukkel om sy voorste troepe van “basiese noodsaaklikhede soos kos en brandstof” te voorsien weens aanvalle op hul toevoerlyne.

Nietemin lyk dit asof Rusland van taktiek verander het vandat daar toenemende lugaanvalle op dele van Oekraïne uitgevoer is. Dit volg nadat die Russiese vloot op die Swartsee toegesak het.

Marioepol binnegedring

Volgens Rusland se ministerie van verdediging het sy troepe Vrydag Marioepol binnegedring ná ʼn lang beleg deur sy magte.

Daar is tans gevegte met die Oekraïense weermag in die middestad aan die gang.

Die burgemeester van die stad het aan die BBC bevestig dat skietgevegte die hartjie van Marioepol bereik het.

Oekraïense owerhede het egter daarin geslaag om meer as 9 000 mense uit Marioepol te red sedert die beleg.

Intussen soek reddingswerkers en inwoners van die stad steeds na slagoffers wat ná ʼn lugaanval in ʼn teater vasgevang is.

Ten tyde van die aanval het Marioepol se stadsraad gesê dat minstens 1 000 vroue en kinders in die teater se bomskuiling geskuil het.

Tot dusver het net 130 mense uit die puin te voorskyn gekom wat glo verskeie beserings opgedoen het. Dit is nog nie duidelik of daar bykomende beserings of sterftes is nie.

Rusland verder geïsoleer

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het sy Chinese eweknie, Xi Jinping, gewaarsku teen die gevolge indien die land sy steun vir Rusland openbaar.

Die VSA is bekommerd dat China aan Rusland finansiële en militêre hulp sal bied – ʼn stap wat moontlik tot wêreldwye konfrontasies sal lei.

In ʼn byna twee uur lange gesprek met Biden het Jinping gesê dat oorlog “in niemand se belang is nie”. Hy het egter nie toegegee aan die toenemende druk om Rusland se optrede te veroordeel nie.

Moskou se diplomatieke isolasie het intussen verdiep namate die Baltiese lande, Estland, Letland en Litaue, die uitsetting van tien Russiese diplomate aangekondig het.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het nietemin Vrydag ʼn groot saamtrek in Moskou gehou, waartydens ʼn see van Russiese vlae gewapper het.

Derduisende mense het glo aan die saamtrek deelgeneem en onder meer linte gedra met die letter “Z” op wat glo ook op Russiese aanvalstenks in Oekraïne verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.