Tennis se nommer een sal toegang tot Frankryk vir die Franse Ope gegee word – selfs al is hy nié teen Covid-19 ingeënt nie, het dié land se minister van sport gesê.
Die 34-jarige Serwiër is in ʼn immigrasie-aanhoudingsentrum in ʼn hotel in Melbourne terwyl hy appelleer teen die terugtrekking van sy visum omdat hy nie aan sekere van Australië se Covid-19-bepalings vir toegang tot die land voldoen nie.
Dit plaas sy deelname aan die Australiese Ope in die weegskaal.
Diegene wat toegang tot Australië verkry moet bewys dat hulle ten volle ingeënt is, of mediese kwytskelding het vir die entstof. Australiese owerhede sê Djokovic het nie aan een van die twee voldoen nie.
Die Franse minister van sport, Roxana Maracineanu, het aan die radiostasie France Info gesê dat Djokovic, wat openlik skepties oor die entstof is, sal baat by ʼn spesiale stelsel in Frankryk wat geld vir groot byeenkomste soos die Franse Ope.
Djokovic het na Australië gereis nadat hy mediese vrystelling van die organiseerders van die Australiese Ope gekry het, maar dit het steeds nie aan die eise van immigrasie-owerhede voldoen nie.
“Betrokke federasies stel gesondheidsprotokolle in, wat diegene soos Novak Djokovic toelaat om die land binne te kom,” het Maracineanu gesê.
“Ons het nie vandag dieselfde regulasies vir toegang as Australië nie, nie vir atlete of burgers van enige ander land nie.
“ʼn Atleet wat nie ingeënt is nie, kan meeding danksy die protokol; die gesondheidsborrel vir dié byeenkomste maak dit moontlik.”
Maracineanu sê ook sy hoop die situasie sal teen Mei, wanneer die Franse Ope na verwagting begin, duideliker wees.
“Ons hoop teen daardie tyd sal daar nie meer rede vir sulke regulasies wees nie.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Die Franse het net suur druiwe omdat hulle nie die duikbote kon verkwansel nie. Vermakerigheid op sy beste.
Wonder hoe kry mens “mediese kwytskelding”.
Welgedaan, Roxana Maracineanu van Frankryk!
Heelwat slimmer as sommige, én genoeg gesonde verstand om te kan onderskei tussen hul eie ‘beskermde’ burgers en buitelanders.
Hoop sy slaag daarin om die ietwat histeriese Macron in toom te hou.
Novak is welkom in Frankryk, ‘n land wat 93% ingeent is. Australie kan gerus ‘n les hieruit leer. Novak vat jou tennis na lande wat dit waardeer.
Fantasies nuus