DNS verbind man met moord op onderwyser

Shanae Brooke Edwards is op 30 Julie vanjaar vermoor. (Foto: Facebook / Shanae Brooke)

’n 33-jarige man van Tbilisi, die hoofstad van Georgië, is Donderdag in verband met die moord op Shanae Brooke Edwards, ʼn Australiese onderwyseres, in hegtenis geneem.

Edwards (31) se liggaam is op 31 Julie vanjaar met veelvuldige steekwonde in die Mtatsminda-park buite Tbilisi gevind, waar sy ’n dag tevore gaan stap het.

Die man is intussen deur Independent Pirveli TV en The Daily Mail UK as Rafael Mursakulov geïdentifiseer. Daar word berig dat roof moontlik die motief agter die moord kan wees, hoewel dit nie amptelik bevestig is nie.

Volgens Georgia Today bly Mursakulov glo naby die plek waar Edwards tydelik gewoon het. Sy was ten tyde van die moord in dié land op reis en het ook daar gewerk.

Georgië word op die 2021 internasionale misdaadindeks as die 11de veiligste land ter wêreld gelys.

Edwards het op die betrokke dag met ’n vriendin van die VSA op die foon gesels toe die verdagte haar oorval en vermoor het. Luidens berigte het die vriendin Edwards oor die foon hoor gil.

ABC News in Australië berig Edwards het glo gepleit “asseblief laat my gaan, oukei. Laat my net gaan.”

Die verdagte is glo vasgetrek nadat polisie sy DNS op ’n mes op die toneel gevind het. Hy is tans in aanhouding en word van moord met voorbedagte rade aangekla.

Volgens owerhede getuig Edwards se beserings van ’n “gewelddadige aanval”.

AFP berig die verdagte kan ingevolge Georgië se wetgewing net sewe tot 15 jaar tronkstraf opgelê word indien hy aan die moord skuldig bevind word.

Mursakulov ontken glo alle aanklagte teen hom. Dit is nie duidelik wanneer hy in die hof sal verskyn nie.

Edwards word op sosiale media as ʼn vrygees en lewenslustige mens onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Porseleintjie ·

Hul regstelsel klink nes SA sn. Lewensverlies is bykans niks werd nie.

Peach ·

Môre mede Maroelanders, wonder waar Suid Afrika geposisioneer is op die wêreld ranglys vir mees gevaarlike lande?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.