Dodelike skietery ure ná Poetin-toespraak

Polisiebeamptes buite die Lubyanka-gebou in Moskou (Foto: Mikhail Kirakosyan)

Minstens een persoon is dood en vyf gewond tydens ’n skietery Donderdag by die hoofkwartier van Rusland se federale veiligheidsdiens (FSB) in Moskou.

BBC berig die skieter het ure ná pres. Wladimir Poetin se jaarlikse mediakonferensie met ʼn outomatiese geweer op mense in die voorportaal van die Lubyanka-gebou losgebrand. Hy is kort daarna deur die owerhede doodgeskiet. Die voorval het in die middestad, nie vêr van die Rooiplein nie, plaasgevind.

The Guardian berig die aanvaller het na bewering ná die skietery op die vlug geslaan en in ’n naburige gebou gaan wegkruip waar veiligheidsdienste hom later doodgeskiet het.

Die vyf beseerdes word tans in ʼn hospitaal behandel. Twee FSB-wagte is onder die gewondes en in ʼn kritieke toestand.

Die Russiese polisie op die toneel. (Foto: Alexander Zemlianichenko, AP)

Die motief vir die moorde is in die stadium onbekend. Dit word egter beweer dat die aanval moontlik beplan was om gedurende Poetin se toespraak plaas te vind.

Poetin was die hoof van die FSB voordat hy eerste minister en later in 2000 president van Rusland geword het.

Dit is nie die eerste aanval op ʼn kantoor van die FSB nie. ʼn Jong anargis (17) is verlede jaar dood toe hy ’n ploftoestel by die ingang van ’n FSB-kantoor in Arkhangelsk in die noordweste van Rusland laat ontplof het. Drie FSB-beamptes is in dié voorval beseer.

Die vertoonkunstenaar Pyotr Pavlensky het in 2015 die houtdeure van die Lubyanka aan die brand gesteek uit protes teen die “oneindige terreur” van die agentskap en hul mag oor sowat 146 miljoen Russiese burgers.

Die enorme FSB-gebou, wat ’n hele straatblok vol staan, is vantevore deur die KGB, die komitee vir staatsveiligheid, en sy Sowjet-voorgangers gebruik vir ondervragings en aanhouding van teenstanders. Duisende gevangenes is ook gedurende die Stalin-era in die gebou se kelder doodgeskiet.

Ambulanse op die toneel. (Foto: Ilya Varlamov)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.