‘Dodelikste dag nóg’ sedert Mianmar-staatsgreep

Betogers in Yangon, Mianmar, word verlede week met traangas verjaag. (Foto: Sai Aung Main / AFP)

Die Verenigde Nasies (VN) bestempel Woensdag as die dodelikste dag nóg sedert die staatsgreep in Mianmar nadat minstens 38 mense tydens betogings doodgeskiet is.

Mianmar is sedert begin Februarie in ʼn warboel nadat die land se weermag ʼn staatsgreep uitgevoer en die demokraties verkose leier Aung San Suu Kyi in aanhouding geneem is.

Duisende mense vaar sedertdien daagliks die strate in weens opstand teen die staatsgreep.

“[Sowat] 38 mense het net vandag gesterf,” het die VN-gesant vir Mianmar, Christine Schraner Burgener, Woensdag aan verslaggewers gesê. “Vandag was die bloedigste dag sedert die staatsgreep plaasgevind het.”

Meer as 50 mense is nou reeds aan die hand van veiligheidsmagte dood. Talle ander is gewond.

Burgener het ʼn beroep op die VN gedoen om “baie streng maatreëls” teen die militêre leiers in te stel.

Die VSA het intussen gesê hy is “gewalg” deur die geweld. “Ons doen ʼn beroep op alle lande om met een stem die geweld deur die Birmaanse weermag teen sy eie mense te veroordeel,” het Ned Price, woordvoerder van die Amerikaanse staat, aan verslaggewers gesê.

Price het veral China uitgesonder, ʼn land wat Mianmar se weermag histories as sy belangrikste bondgenoot beskou.

“China het invloed in die streek. Dit het invloed by die militêre junta. Ons het ʼn beroep op die Chinese gedoen om dié invloed op ʼn opbouende manier te gebruik, op ʼn manier wat die belange van die mense van Birma (ʼn ander naam vir Mianmar) bevorder.”

Die VSA oorweeg intussen verdere stappe teen die weermag. Die land het reeds sanksies teen die militêre leiers goedgekeur wat die staatsgreep in Mianmar uitgevoer het.

Duisende betogers het vanoggend weer die strate van dorpe en stede in Mianmar ingevaar in opstand teen die staatsgreep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

VSA het te veel om te sê

Jaco

Joe Biden is vinnig om geweld in sy eie land goed te keur en selfs aan te moedig as die polisie net bietjie hardhandig teenoor ‘n misdadiger optree, maar hy veroordeel geweld in Mianmar. Vreemd…