Dodetal in aardbewings, tsoenami kan skerp styg

Talle kusgebiede het deurgeloop onder die tsoenami wat ná die aardbewings gevolg het. Foto: Philippine Star via Facebook

Minstens 50 mense is dood in ʼn reeks aardbewings en ʼn tsoenami wat die Indonesiese eiland Sulawesi getref het, hoewel die vrees bestaan dat nog honderde kon gesterf het terwyl reddingswerkers swoeg om gebiede te bereik wat die ergste deurgeloop het.

Die Sydney Morning Herald (SMH) berig die sterkste van die meer as ʼn dosyn aardskuddings het 7,5 op die Richterskaal gemeet toe dit Sentraal-Sulawesi Vrydag getref het. Die gepaardgaande tsoenami aan die kus was by die 3 m hoog.

Indonesië se nasionale rampagentskap het Saterdagoggend gesê die amptelike dodetal staan op 48, terwyl meer as 350 mense beseer is, maar dié syfers is net vir die stad Palu. Die nabygeleë Donggala het die kwaaiste deurgeloop, maar geen syfers is nog vir dié stad uitgereik nie.

Die liggame van talle mense wat in die tsoenami gesterf het, is op plaaslike strande gevind, maar die finale sterftesyfer sal na verwagting eers heelwat later bekendgemaak kan word, berig die SMH.

CNN berig duisende huise het in die slag gebly, brûe het ineengestort en die kragtoevoer na die meeste dele van Palu en Donggala is afgesny. Nadat ʼn plaaslike hospitaal erg beskadig is, het mediese beamptes dosyne beseerdes buite behandel.

ʼn Maand gelede het drie aardbewings talle eilande getref in die suidelike Stille Oseaan en Indonesië, onder meer Lombok, wat nou herstel van die skade van ʼn aardbewing op 5 Augustus waarin meer as 430 mense hul lewe verloor het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Dit is baie hartseer, dat soveel mense hul lewe verloor het.. soveel skade is aangerig… my Gebed gaan uit na die mense wat als verloor het agv die Tsoenami.

leser ·

sterkte aan all slagoffers en families, ek bid ook vir julle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.